Local newsNews

Motoris opgespoor na hy voertuig stamp

Eers agterna toe die man reeds weggery het, het ds. Rheeder gesien dis sy eie besonderhede wat net aan hom teruggegee is

SECUNDA – ‘n Motoris wat op Sondagoggend, 10 Maart, in ‘n bejaarde egpaar se motor vasgery het, die verkeerde inligting aan die afgetrede predikant verskaf het en toe verdwyn het, is die volgende dag opgespoor.

Ds. André en me. Hannie Rheeder (albei 82-jaar-oud), se dogter, me. Hannelie Prinsloo, het Maandag die man in sy wit Isuzu-bakkie gewaar en hom agtervolg.

Hy het homself toe ook by die polisie gaan aanmeld.

Die Rheeders het Sondagoggend ná kerk na die Five Star Superstar in Nelson Mandela-rylaan gery.

Hulle was in die parkeerterrein toe ‘n man met grys hare agteruit in hulle vasgery het.

Volgens ds. Rheeder se kleinkinders het hul oupa sy besonderhede op ‘n stukkie papier neergeskryf en vir die motoris in die bakkie oorhandig, met ‘n verduideliking dat hulle afgetrede sendelinge is wat nie geld het om vir die skade aan hul motor te betaal nie.

Die man het toe glo ook iets op die papier geskryf, dit afgeskeer en ‘n papiertjie aan mnr. Rheeder teruggegee.

Eers agterna toe die man reeds weggery het, het ds. Rheeder gesien dis sy eie besonderhede wat net aan hom teruggegee is.

Die Rheeders se familie het hul na sosiale media gewend om die man op te spoor.

“Die Here het opnuut Sy getrouheid aan Sy kinders gewys toe my ma per toeval die einste man Maandag gewaar het,” het me. Sammy Smit, hul kleindogter vertel.

“Ons vertrou dat geregtigheid sal seëvier.”

Die Rheeder-egpaar is afhanklik van ‘n karige pensioen wat hulle vir die laaste paar jaar met die bak en verkoop van dosyne koeksisters aangevul het.

Ds. Rheeder preek ook nog soms in die Evangelies Gereformeerde Kerk op Secunda.

“Ouma se gesondheid het egter so agteruit gegaan dat hulle nie meer kans sien vir die baie bakwerk nie. Hulle neem nog net hierdie maand bestellings,” het me. Smit gesê.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/119147/bejaarde-egpaar-vul-pensioen-aan-deur-koeksisters-en-naalwerk/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button