Local newsNews

Jamie de Frey van Trichardt sit graag hand by wanneer manlief motors restoureer

Ná hulle die knoop deurgehaak het, het die De Frey-egpaar besluit om hul eerste veteraan-motor aan te koop wat hulle self ten volle kon restoureer.

TRICHARDT – Me. Jamie de Frey (26) is mooi genoeg om die skoonheidstitels in te palm, maar dié slanke skoonheid verkies om eerder haar hande vol ghries en motorolie te kry.

Sy is ‘n plat-op-die-aarde vrou wie se gesin vir haar die belangrikste in die lewe is. Hiernaas is motors haar gunsteling tydverdryf.

“Ek het met ‘n oog vir ‘n mooi kar grootgeword.

“Ek het van kleins af opgewonde geraak wanneer ek die gebrul van ‘n motorenjin gehoor het.”

Terwyl haar vriendinne na modeparades wou gaan en allerlei “meisie-goed” wou doen, was me. De Frey se grootste begeerte om motorskoue by te woon en die buite- en binnewerke van ‘n voertuig beter te leer ken.

Sy het slaafs motorprogramme soos Top Gear en Overhauling gevolg.

“Ek het net nooit werklik iemand gehad om dié passie mee te deel nie.

“Dit is waarom ek en Pieter so goed aanklank by mekaar vind,” het sy vertel.

‘n Nuwe wêreld het vir haar oopgegaan toe sy haar man, mnr. Pieter de Frey (42), ‘n paar jaar gelede ontmoet het.

“Ek was Pieter se sekretaresse.

“Ek werk steeds vir hom, maar korter ure sodat ek na die kinders, Tiané (5) en Ethan (2), kan omsien.”

Mnr. De Frey is ‘n veteraan- en spogmotorentoesias en het van kindsbeen af saam met sy pa, Kassie, motors opgebou en gerestoureer.

Kassie woon steeds in Randfontein en het ‘n merkwaardige versameling van ou voertuie.

Ná hulle die knoop deurgehaak het, het die De Frey-egpaar besluit om hul eerste veteraanmotor aan te koop wat hulle self ten volle kon restoureer.

Hul keuse het op ‘n unieke 1970 Volvo 122 B20 geval.

“Dit was deel van my skoonpa se versameling van motors wat nog gerestoureer moes word. Ons het die geld bymekaar gemaak en die motor by hom oorgekoop.”

Me. De Frey het dié uitdaging terdeë geniet – selfs met ‘n baba op die heup het sy steeds saamgewerk, en het sy en haar man uitgesien na die tye dat hulle kon afknyp om aan die motor te werk.

“Ek het so baie by Pieter geleer en dit is fantasties om saam aan die projek te werk.

“Ja, ek het selfs ook gehelp om die onderdele te was of te olie, en om aan die enjin te werk,” het sy vertel.

Die egpaar het sowat drie jaar gelede hul tweede voertuig, ‘n Ford Cortina V8, aangekoop, en is dié voertuig eintlik nog ‘n projek in aanvang.

“Ons het nou nóg ‘n kleinding, so die tyd om saam aan dié een te werk, is baie beperk.”

Volgens me. De Frey help die kinders al te graag hul ouers, maar moet die egpaar gereeld keer wanneer Ethan ‘n kapding nader sleep.

Hulle is nie té bekommerd oor die skade wat ‘n peuter aan die Ford kan aanrig nie, maar keer met alles dat hy nie by die Volvo uitkom nie.

Laasgenoemde het ‘n spesiale bergplek op die De Frey-werf.

Me. De Frey glo dié motors is net die begin van hul projekte.

Wanneer die egpaar nie aan motors werk nie, skou hulle ook graag hul voertuie as lede van die Teksa Veteraan- en Spogmotorklub uit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button