CrimeNews

Tiener in Secunda van selfoon beroof toe hy mede-leerder uit misdadiger se kloue red

As Dylan vroeër skool toe gery het, het hy dalk die meisie in nood gemis, of erger nog - as hy later daar verby gegaan het, het hy dalk op iets leliks afgekom

SECUNDA – Die dapper optrede van ‘n 16-jarige seun van Secunda het van hom ‘n held gemaak in die oë van sy skoolmaats, sy onderwysers en sy ouers.

Dylan Harris (16), ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Secunda, het verlede Dinsdag, 29 Januarie, gehelp dat Christine Gazi veilig uit die kloue van ‘n misdadiger ontsnap het.

Hy is in die voorval self ook beroof.

Volgens Christine, ‘n graad 10-leerling, moes sy dié oggend alleen deur die groenstrook langs Laerskool Secunda stap.

Draadheinings is by die begin van die groenstrook in Bossjespruitstraat opgerig en stappers moet eers daardeur beweeg voor hulle in die groenstrook kan wees.

‘n Paar meter verder groei die gras hoog langs die voetpaadjie.

“Ek het probeer om verby die man te stap, maar hy het my voorgekeer en die tyd gevra.

“Ek het bly sê dat ek nie ‘n horlosie besit nie,” het Christine vertel.

Sy vermoed hy wou haar dwing om haar selfoon uit te haal om haar daavan te beroof.

“Hy het my naderhand met ‘n mes gedreig.”

Dit was ‘n bestiering dat Dylan juis op daardie oomblik op sy fiets in die teerpad aangery gekom het.

“Ek ry gewoonlik vroeër, maar dié oggend is ek deur takies vir my ma opgehou,” het Dylan verduidelik.

“Christine het verlig gelyk toe sy van die man af weggedraai en na my toe aangestap het.

“Sy het probeer kalm bly en net gevra dat ek haar vergesel omdat die vreemde man haar lastig val. Ek het eers agterna gehoor die man het haar met ‘n mes gedreig.”

Dié foto van Christine Gazi en Dylan Harris, asook ‘n inskrywing oor Dylan se heldedaad, is op Hoërskool Secunda se Faceboek-blad geplaas.

Dylan het die naweek aan Ridge Times gesê hy skat die verdagte is in sy 40s.

Die tiener het aangebied om met sy fiets agter Christine te bly totdat sy by die skool is, maar hulle was skaars verby die man of hy het vir Dylan van agter gegryp.

“My selfoon het uit my sak geval en die man het dit opgeraap en daarmee begin wegstap.” Christine het die kans waargeneem om weg te hardloop en het aan die anderkant van die groenstrook hulp ontbied.

Dylan het egter sy fiets neergegooi en die man teen ‘n muur vasgepen, ‘n paar vuishoue ingekry en aangedring dat die man sy foon vir hom teruggee.

“Skielik het daar ‘n tweede man, wat meer soos ‘n skoolseun in gewone klere gelyk het, vanuit Bossjespruitstraat in die groenstrook aangehardloop. Die ouerige man het toe die foon vir die seun gegooi.

“Hulle het die foon heen-en-weer gegooi sodat ek dit nie kon kry nie en het toe in verskeie rigtings laat spaander.”

Die ouer man het met die selfoon oor ‘n palissade-heining geklouter en weggehardloop.

Dylan het toe sy fiets gegryp, die straat ingejaag en om hulp geskree.

“Ek was baie teleurgesteld toe ‘n man wat by ‘n veiligheidskompleks uitgery het, my wel raakgesien het, maar verkies het om my nie te help nie.”

‘n Vrou het agterna by Dylan stilgehou en gehelp dat hy sy ma kan skakel.

Christine het ook die voorval by die skool aangemeld en het geweier om huis toe te gaan totdat sy geweet het Dylan is veilig.

“Ek is werklik dankbaar vir wat hy gedoen het. Ek was bang.”

Dylan se ma, ook Christine, meen dat as Dylan vroeër skool toe gery het, hy dalk die meisie in nood sou gemis het.

“Of erger nog – as hy later daar verby gegaan het, het hy dalk op iets leliks afgekom.” Sy, haar man Norman, en Dylan se klein boetie, Timothy, is dankbaar dat niks erger gebeur het nie.

“Ek is trots op my seun dat hy vir ‘n ander kind uitgekyk het. Dit is hoe dit in ons land moet wees,” het mnr. Harris gesê.

Dylan beskryf homself nie as ‘n held nie, maar eerder as ‘n ‘X Box-gamer’ wat daarvan hou om aan bergfietswedrenne deel te neem.

Dylan Harris verduidelik waar hy Dinsdagoggend op Christine Gazi en ‘n man wat haar lastig geval het, afgekom het. Die man het Dylan se selfoon gesteel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button