NewsSchools

Graad 1-leerling wat op eerste dag wou weghardloop, beloof nou om elke dag skool toe te gaan

"Toe ek opgehou huil het, het ek baie van die skool gehou”

TRICHARDT – Micyla Boldwin wou niks weet van skool toe gaan nie.

Sy is Woensdag by Laerskool Trichardt in die Graad 1-klas ingeskryf, maar het keel opgesit, vir haar ma weggekruip en het selfs probeer om haar skooluniform uit te trek.

Haar pa, mnr. Shane Boldwin, moes haar twee keer gaan vang en terugneem klas toe waar haar juffrou haar hande vol gehad het met die ander bedrywige graad 1-klasmaats.

Ridge Times se video oor Micyla se hartverskeurende pleidooi om eerder huis toe te gaan, het aan menige van die koerant se volgelinge se hartsnare gepluk.

Die meerderheid van die lesers wat kommentaar op die Facebook-inskrywing gelaat het, wou weet hoe het die res van dié kleinding se dag verloop.

Een leser het gesê sy is skoon in trane vir die kind.

Micyla Boldwin klou aan haar pa, mnr. Shane Boldwin op die eerste dag van graad 1. Sy is by Laerskool Trichardt ingeskryf.

‘n Ander was van mening dat Micyla goed in die skool se atletiekbyeenkoms sou vaar vanwee haar blitsige naellope om haar ma, me. Dorothy Boldwin, te ontduik.

Die koerant het Vrydagoggend, 11 Januarie, vir me. Boldwin en klein Micyla by hul huis in Secunda opgespoor.

Die dogtertjie was nog deur die slaap, maar kennelik opgewonde om die koerantmense weer te sien.

“Kyk my tand wissel,” het sy gewys.

Sy is nie dié oggend – of die vorige dag – skool toe nie.

“Sy kon net nie opkom nie, maar sy het darem ‘n belofte aan haar pa gemaak dat sy van Maandag af elke dag sal skool toe gaan,” het me. Boldwin verduidelik.

“Ja,” het Micyla beaam. “Ek sal rerig nou elke dag skool toe gaan.

“Dit was baie lekker by die skool.

“Toe ek opgehou huil het, het ek baie van die skool gehou,” het Micyla vertel.

https://www.facebook.com/echoridgenewspapers/videos/360860251310528/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button