Local newsNews

AfriForum gee terug aan gemeenskap met projekte

Organisasie gebruik baie teer om dorp te verbeter

BETHAL – AfriForum se Bethal-tak het 2018 op ’n hoë noot afgesluit met hul projek om slaggate op Bethal te vul.

Volgens mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder, het hulle meer as 450 sakkies teer gebruik tydens ‘n onlangse projek.

Die Bethal Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) en vele vrywillgers het ingespring om die projek ’n sukses te maak.

Mnr. Eugene Hartman, voorsitter, het gesê: “Die Bethal-tak se slaggatvullingsprojek vir 2018 het deur die jaar meer as 2 400 sakkies teer gebruik en die koste verbonde aan die projek het R150 000 oorskry.

“Ongelooflike hulp is vanuit die Bethal-gemeenskap ontvang. Dit is ’n bewys dat die gemeenskap kan saamwerk om Bethal vir almal wat in die dorp woon, te verbeter.”

Tydens ’n vullisverwyderingskrisis wat die dorp vanjaar beleef het, het die AfriForum-tak en verskeie ander rolspelers ook ingespring om dié krisis te verlig.

Volgens mnr. Bekker is meer as 10 trokvragte vullis verwyder nadat die munisipaliteit se verwyderingsdienste weens ’n tekort aan vragmotors by Govan Mbeki Munisipaliteit gestaak is.

AfriForum se Bethal-tak het ook deurlopend aan die netheid van die sentrale sakekern aandag gegee en onkruid met gif bespuit. Vullis is deur ’n privaat kontrakteur verwyder.

“Vullisdromme is ook opgerig en nog plekke waar dromme uitgesit gaan word, word tans geïdentifiseer,” het mnr. Bekker gesê.

“Ons poog om die dorp te verbeter deur volhoubare oplossings aan die gemeenskap te bied.

“Daar is duidelike tekort aan vullisdromme op die dorp en dit lei daartoe dat die strate met rommel besaai is.

“Die oprigting van ekstra vullisdromme gaan help om dié probleem op te los.”

Kleiner aksies soos die opruim van die eiland by die Nestlé-brug, die skoonmaakaksies by die Bethal-begraafplaas asook die netjiesmaak van die gedenkplein, is ook deur die loop van die jaar deur die tak aangepak.

AfriForum se Bethal-tak het ook aan die organisasie se jaarlikse boomplantmaand deelgeneem, en het bome aan tehuise en ook die plaaslike polisiestasie geskenk.

AfriForum het vanjaar meer as 3 000 bome regoor die land geplant as deel van hierdie projek.

“Bethal het in die laaste 15 jaar baie agteruitgegaan, maar ons sal nie ophou om die verval van ons dorp te probeer voorkom nie,” het me. Ingrid Human van AfriForum se Bethal-tak, gesê.

“Dit is immers óns dorp; óns erfenis.”

As jy by AfriForum se Bethal-tak betrokke wil raak, stuur ’n SMS met die word ‘Bethal’ na 45350.

’n SMS kos R1.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button