Local newsNews

Hart eis Apie Strauss, ’n bekende in die sakewêreld

Die Strauss-egpaar het sowat 10 jaar gelede na Heroldsbaai verhuis en het later opgetrek na Oubaai

SECUNDA – Mnr. Apie Strauss (66), ‘n bekende sakeman wat vir baie jare sy wortels in Secunda en Trichardt gehad het, is op Vrydag, 5 Oktober, in George dood.

Hy en sy vrou Bets sou die volgende dag (6 Oktober) hul 42ste huweliksherdenking gevier het.

Volgens ‘n jarelange vriendin van die egpaar, me. Lucille du Preez, was hulle die dag in George waar Bets ‘n oogarts-afspraak moes nakom toe hy ‘n hartaanval gekry het.

Die Strausse is ou-bekendes in Secunda en omgewing. Mnr. Strauss se pa, Oom Japie, het die dekades gelede Trichardt Motorwerke begin en later het die Shell-vulstasie bekom.

Mnr. Strauss en sy broer Wessel, het ‘n groot aandeel in die onderneming gehad.

Hy het ook sy eie motorherstelwerkwinkel besit. Mnr. Strauss het ook die Shell-vulstasie oorkant die polisiestasie in Secunda besit, asook Shell-vulstasies in Nelspruit en Somerset-Wes.

Die Strauss-egpaar het sowat 10 jaar gelede na Heroldsbaai verhuis en het later opgetrek na Oubaai, ‘n gholflandgoed.

Mnr. Strauss was ook ‘n sakeman van formaat in die George-distrik waar hy die stigterslid was van verskeie ondernemings wat tans aan die Strauss-familiegroep behoort, waaronder die ontwikkeling by die Shell Kraaibosch-vulstasie.

“Apie was die laaste paar jaar baie siek. Hy het al ‘n pasaangeër gekry en die kardioloog het gesê hy moet ‘n hartomleiding kry,” het me. Du Preez gesê.

Mnr. Strauss laat sy vrou en drie seuns, Morné, Rayno en Arno en hul gesinne agter.

Sy begrafnis vind om 11vm vanuit die Blanco NG Kerk op 15 Oktober plaas waarna daar ‘n spesiale byeenkoms om Apie se lewe te vier, by die klubhuis in Oubaai gehou sal word.

Mnr. Apie Strauss, ‘n bekende sakeman wat vir jare op Secunda gewoon het, is Saterdag in George dood.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button