Local newsNews

Windhond Moya hardloop weer

Die DBV het ’n ondersoek begin en ná gesprekke en ’n diagnose deur ’n plaaslike veearts, is daar op die dier beslaggelê. Die besluit is toe geneem om Moya se been te amputeer sodat hy pynvry kan wees.

SECUNDA – Wanneer Moya soos ’n blits agter Buddy aanhardloop, kom jy skaars agter dat dié windhond slegs drie bene het.

Dit is eers wanneer die twee hondemaats se joligheid bedaar en Moya na sy baas, mnr. Charl Botha, aangestap kom dat ’n mens opmerk sy regter voorbeen skort.

Dit blyk egter ’n nietigheid te wees vir dié skugter hond met die sagte bruin oë wat tot diep in jou siel kan staar. Daar is ’n andersheid aan hom as drie maande gelede. Die donkerte van intense pyn is nie meer daar nie.

Hy is selfs minder sku vir vreemdelinge en sal nou al nader kom om die besoeker te groet en te snuffel.

“Hy het in die verlede gaan wegkruip en was baie bang, veral as die tuindienste opgedaag het,” het me. Monique Cilliers, mnr. Botha se verloofde en Moya se mens-ma, vertel.

Die paartjie het Moya bykans ’n jaar gelede ontmoet toe ’n plaaslike dierewelsynsorganisasie hom by hulle in pleegsorg geplaas het.

Moya is ’n township-hond wat vir een doel aangehou was – om te jag. Dit was waarskynlik op een só ’n jagtog dat sy been gebreek het.

“Ons vermoed ook hy was mishandel omdat hy só skrikkerig vir mense was en niemand maklik vertrou het nie. Dit het my maande geneem van saam met hom op die mat lê en uitreik om sy vertroue te wen,” het mnr. Botha vertel.

Moya het ook letsels op sy lyf gehad en duidelike tekens van kettings om sy nek. Sy gebreekte been moes geopereer word, maar maande het verloop terwyl die paartjie op die organisasie gewag het om tot die daad oor te gaan.

Dié praghond het intussen al hoe dieper in die gesin se harte gekruip, veral in klein Bella, me. Cilliers se dogtertjie, se hart.

“Ons het besluit om die Hoëveldrif DBV se hulp in te roep toe ons skielik ingelig is dat Moya na sy township-eienaar moes teruggaan met gebreekte been en al.”

Die DBV het ’n ondersoek begin en ná gesprekke en ’n diagnose deur ’n plaaslike veearts, is daar op die dier beslaggelê.

https://www.citizen.co.za/ridge-times/114638/spca-comes-to-the-rescue-of-two-suffering-dogs/

Die besluit is toe geneem om Moya se been te amputeer sodat hy pynvry kan wees. Hy is ook gekastreer wat hom nie meer vir teeldoeleindes waardevol gemaak het nie.

Mnr. Botha en me. Cilliers het nou wettiglik vir Moya aangeneem en hy floreer by hulle. Sy windhondmaat, Buddy, is ook ’n reddingsgeval, maar die verlede en ’n verlore ledemaat is nie juis in hul gedagtes as die twee mekaar uitbundig rondjaag nie.

En wanneer Moya nie met Buddy speel of aan sy gunsteling speelgoed knaag nie, eet hy graag voeltjiemis.

“Dit blyk vir Moya ’n fynproewerdis te wees,” het me. Cilliers geskerts.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button