Local newsNews

Valerie van den Bergh van Secunda geniet nou ’n rustiger lewe

Vrou geniet haar kleinkinders en maak graag dinge mooi.

SECUNDA – Stilsit bestaan nie in me. Valerie van den Bergh se woordeskat nie.

Sy het na jare in die korporatiewe bedryf en spesifiek in die motorverhuringsmark, afgetree en is nou ’n verspreider van Let Love Clothing.

Sy het vir meer as 22 jaar daagliks vanaf Secunda na Johannesburg gependel en saans weer terug huis toe toe sy by ’n motorverhuringsagentskap gewerk het.

Me. Van den Bergh het in 2002 ’n sabbatsjaar van die motorbedryf geneem en haar eie bruidswinkel en bloemiste op Secunda oopgemaak wat sy vir twee jaar bedryf het.

Die motorverhuringsagentskap het haar egter geskakel en weer werk aangebied en sy het teruggekeer na dié bedryf en haar bruidswinkel verkoop.

Sy is op Klerksdorp gebore en het in Benoni grootgeword voordat haar ouers na Secunda verhuis het waar sy aan Hoërskool Evander gematrikuleer het.

Me. Van den Bergh het direk na skool by ’n onderneming op Secunda begin werk en haarself opgewerk tot takbestuurder, streeksbestuurder, verkoopsdirekteur en operasionele direkteur van verskeie motorverhuringsagentskappe.

“My werk was my ‘happy place’,” het me. Van den Bergh gesê.

Sy het deur die jare in die korporatiewe bedryf gereeld die geleentheid gehad om oorsee te reis en baie plekke te sien.

“Ek het vir my werk geleef en alles anders tweede geplaas, maar het later besef ek gaan alleen oud word en dat my familie ook belangrik is.”

Nou wil me. Van den Bergh haarself daarop toespits om ’n verskil in elke persoon wat haar pad kruis, se lewe te maak en meer by gemeenskapspojekte betrokke te raak.

Sy is al 35 jaar getroud met mnr. Kobus van den Bergh en die egpaar het een dogter en drie kleinkinders.

Sy bestee deesdae graag tyd saam met haar kleinkinders en hou daarvan om plekke en dinge mooi te maak, en is vol energie.

Lees ook: Bianca Fourie moet dringend operasie vir skoliose kry #HelpBiancaFourie

In haar vrye tyd geniet sy dit om blomme te rangskik of vertrekke te versier of om haar familie te help om troues of ander spesiale geleenthede te reël.

Me. Van den Bergh het ook al ’n moeilike pad geloop en is in 2008 met borskanker gediagnoseer.

“Dit het my uitkyk op die lewe verander.”

Sy het nie gaan lê nie en het vir bestraling gegaan en is al 10 jaar skoon.

“Ek kon nie die woord kanker en my naam in een sin sê nie en wou net so gou as moontlik gesond word.”

Die klerereeks, Let Love Clothing, waarvan sy nou ’n verspreider is, is deur haar jarelange vriendin, me. Wilma le Roux, begin en dit kan gesien word op die KykNet realiteitsprogram, “Kunsvlyt”.

Sy het verlede jaar ’n vroue-oggend gereël en die opbrengs is aan Marietjie Skool geskenk.

“Ek het net gevoel vroue moet soms bietjie bymekaar kom, want ’n vrou in die huis is tog die wiel waarom alles draai.

“As die vrou emosioneel op ’n goeie plek is, gaan dit ook goed met al haar huismense.”

Me. Van den Bergh het onlangs die Boere Mall Mark wat by Stoepstories op Trichardt plaasvind, begin.

“Ek wil op ’n Saterdagoggend opstaan en na ’n plek gaan waar ek net met my vriendinne kan kuier en vars plaasprodukte kan koop sonder om na besige winkels te gaan.”

Dié mark vind elke eerste en laaste Saterdag van die maand plaas en me. Van den Bergh se mikpunt is om dit ’n twee-weeklikse mark te maak.

Sy is ook by ’n projek wat handsakke en toiletware vir slagoffers van geweld en verkragting insamel, betrokke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button