EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Gesinsdag beplan om geld in te samel vir die oprigting van ‘n tehuis vir bejaardes buite Trichardt

“Staatspensioene is maar karig, en baie oumense kan nie ’n blyplek, dienstegeld en kos bekostig nie. Ons idee is om ’n soort koshuis vir bejaardes te begin.”

TRICHARDT – Vier Suid-Afrikaanse kunstenaars tree op 17 Maart by die Goue Jare-gesinsdag buite Trichardt op.

Dié dag word op die plaas Trichardtfontein langs die N17-snelweg buite Trichardt gehou om geld in te samel vir ‘n beplande behuisingsprojek vir bejaardes wat net van staatspensioene afhanklik is.

Maroelaboom, Janco Laubscher, Gary Forwood en Stiaan Reynierse is die kunstenaars wat dié dag besoekers sal vermaak.

Die Goue Jare-gesinsdag bied entrepreneurs die kans om ‘n stalletjie op te rig vir die dag en goedere te verkoop. ‘n Veiling word ook beplan waar enigiets wat mense skenk, op veiling uitgeplaas kan word. Neem dus al die wit-olifante in jou huis. Me. Geraldine Stoffberg en haar span wil dié dag minstens R350 000 insamel.

“Dit is hoeveel ons gaan benodig om die deposito en drie maande se huur vir die perseel te betaal,” het sy verduidelik.

Me. Stoffberg het al ‘n geruime tyd die idee van ‘n behuisingsprojek vir pensioentrekkers op staatspensioen wat nie ‘n heenkome het nie, in gedagte. “Staatspensioene is maar karig en baie oumense kan nie ‘n blyplek, dienstegeld en kos bekostig nie. Ons idee is om ‘n soort koshuis vir bejaardes te begin. Dit sal egter net voldoende wees vir oumense wat nog selfversorgend is en nie verpleging benodig nie.”

Sy beoog om die bejaardes aan te moedig om as ‘n kommune saam te werk, waar vroue wat kan kook die kombuis kan behartig, die mans wat lief is vir tuinmaak ‘n groentetuin kan begin en almal kan saamwerk om die tehuis selfonderhoudend te maak.

Me. Stoffberg nooi die publiek om die Goue Jare-gesinsdag te ondersteun en saam te geniet. Kaartjies is by die hekke beskikbaar teen R120 ‘n volwassene en R80 vir kinders ouer as 12.

Die hekke open om 9vm. Skakel me. Stoffberg by 072 967 9991 of 081 4779548 as jy enigiets vir die veiling wil skenk en om kaartjies te bespreek. As jy ‘n stalletjie wil oprig, skakel Milizane by 078 625 7353.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button