Local newsMunicipalNews

Inwoners sien nie die lig nie

Verskeie stukkende lamppale lê Bethal se sypaadjies vol en gate waar pale voorheen uitgehaal is, bly oop.

BETHAL – Inwoners ken seker almal die bekende Eskom-advertensie wat sê dat alle onnodige elektriesetoestelle op geskeduleerde tye afgeskakel moet word.

Dit is daarom vir sommige inwoners egter verstommend dat ligte op die N17-snelweg reg deur die dag brand.

Verskeie stukkende lamppale lê Bethal se sypaadjies vol en gate waar pale voorheen uitgehaal is, bly oop.

In Moses Kotanestraat het vier inwoners beserings opgedoen omdat dié gate nie doeltreffend afgespan of toeggegooi was nie.

Sommige kragpale, soos die een in Veralaan wat se drade onlangs geknip en gesteel is, het aan die onderkant al verbrokkel en was slegs deur die drade regop gehou.

Inwoners in Van Heerdenlaan het lanklaas die lig gesien omdat die straatligte almal stukkend is.

Plotbewoners sê ligte het in 2002 laas geskyn.

Die GPF in Uitbreiding 3 wag ook steeds nog op die munisipaliteit vir werkende ligte.

Inwoners wys net vingers na die ligte as daar gepraat word van die toename in huisinbrake en algehele misdaad.

Mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê: “Die energiebesparingsinisiatief geld soos per die nasionale prioriteite vir almal.

“Die N17 is ’n nasionale pad en Sanral as die verantwoordelike owerheid sal in kennis gestel word om die skakels reg te stel.

“’n Verslag deur die plaaslike bestuurder sal by die aangewese diensverskaffer wat die onderhoud van straatligte doen, aangevra word om hul ingrypings en vordering tot op datum te evalueer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button