Local newsNews

‘Skenk bloed, dit het ons lewe gered’ – Secunda-tweeling

Vandag sal jy nie sê dat tweeling net bietjie meer as 2.4kg by geboorte geweeg het nie.

SECUNDA – Jason en Kaylie Coetzer, ’n tweeling, is prematuur gebore, maar jy sal nie vandag sê dat hulle net bietjie meer as 2.4kg by geboorte geweeg het nie.

“Hulle was vir 12 dae in die hoësorgeenheid en die susters moes baie bloed trek.

“Omdat hulle so klein was en min bloed gehad het, moes hulle bloedoortappings ontvang.

“Gelukkig het hulle niks makeer nie en is vandag perdfris en gesond,” het hul ma, me. Berta Coetzer, vertel.

Dit was altyd die broer en suster se droom om ook self bloed te skenk sodat hulle ook ander kan help.

Dié twee het reeds in Januarie 16 geword en Jason het op die dag van sy verjaardag, bloed geskenk.

Kaylie weeg nog te min om te skenk, maar het gesê dat sodra sy kan, sy sal skenk.

Jason is vandag ’n sterk rugbyspeler en neem ook aan atletiek deel, maar geniet rugby die meeste.

Kaylie was vir drie jaar agterneenvolgend die Victrix Ludorum tydens haar skool se interhuissportdag.

Sy was ook in gr. 8 en gr. 10 die beste baanatleet.

“Mens sou nooit kon dink dat daardie klein lyfie aan soveel sport kan deelneem nie.

“Hulle het nie toegelaat dat enige iets hulle onderkry nie,” het hul ma gesê.

Kaylie neem aan hoog- en verspring deel, kort hekkies en kort afstande.

“Ek sou nog die oggend van hul geboorte gaan werk het.

“Die vrugsakkie waarin Kaylie was, het eerste gebreek en sy is eerste gebore.

“Alles het so deurmekaar gevoel.

“My ginekoloog het my goed voorberei en my inspuitings gegee wat help om te voorkom dat die babas probleme met hul longetjies kry.

“Dit is waarom ek nie bekommerd was dat dié twee iets sou makeer wanneer hulle gebore word nie,”

Kaylie en Jason wil ander aanmoedig om bloed te skenk omdat dit lewens red.

“Ons is ’n bewys daarvan dat deur bloed te skenk, mense se lewens gered word.

“Moet asseblief nooit ophou om bloed te skenk nie en as jy nog nie begin het nie, is dit nie te laat om te begin nie,” het Kaylie gesê.

Related Articles

Back to top button