CrimeLocal newsStreeknuus

Delmas buurtwag hou lugpatrollie met gevorderde hommeltuigtegnologie

“Hommeltuie maak dit moontlik om verdagtes op te spoor sonder dat hulle daarvan bewus is. Ons buurtwag kan dan ’n gefokusde reaksie van stapel stuur om boosdoeners in samewerking met Delmas se plaaslike polisie vas te trek.”

Met kapings en gepaardgaande ontvoerings steeds aktief op veral op die N12 snelweg by Delmas, het AfriForum Delmas Valke buurtwag ’n lugpatrollie met gevorderde hommeltuigtegnologie uitgevoer.

Die lugpatrollie het op 14 Julie plaasgevind met die doel om motoriste, wat hierdie kriminele se teiken is, te beveilig.

Tydens dié patrollie is ’n spesifieke deel van die snelweg beveilig met twee hommeltuie wat langs die pad vlieg.

Streeknuus berig gereeld oor hierdie kapers, meestal in voertuie met blou ligte op die paneelbord en geklee in polisie uniform, wat motoriste teiken wat saans en veral naweke op die N12 reis.

Die Delmas Polisiestasie is ook weer deur die minister van polisie, Bheki Cele, as die stasie met die meeste ontvoerings in Mpumalanga aangewys.


LEES OOK: Church brings unity to Cullinan and Rayton communities with Groot Stap


Volgens die Delmas polisie is die statistiek direk gekoppel aan die hoeveelheid kapings, want byna elke kaping gaan gewoonlik met ’n ontvoering gepaard. (Streeknuus, 14 Julie).

Daar is ook verskeie voorvalle aangemeld waartydens klippe of ander voorwerpe op die padoppervlak geplaas word en die kriminele, waarvan die meeste swaar gewapen is, die bestuurders en hul passasiers beroof.

Dit nadat voertuie dié voorwerpe teen hoë spoed tref en hulle dan noodgedwonge tot stilstand moet kom.

Daar was al aande waartydens tot ses gevalle van voorwerpe op die pad en gepaardgaande rooftogte en aanrandings aangemeld is.

Volgens AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld, Hennie Bekker, is die hommeltuie met nagsigtoerusting toegerus wat dit moontlik maak om verdagtes so ver as 400 m in die nag te kan sien.


LEES OOK: Nursery school learners in Trichardt end second term with a drive-through movie


“Hommeltuie is uiteraard baie meer effektief as gewone voertuigpatrollies omdat verdagtes nie in die gras langs die pad vir die hommeltuie kan wegkruip nie,” het Bekker gesê.

“Hommeltuie maak dit moontlik om verdagtes op te spoor sonder dat hulle daarvan bewus is.

“Ons buurtwag kan dan ’n gefokusde reaksie van stapel stuur om boosdoeners in samewerking met Delmas se plaaslike polisie vas te trek.”

“Geen voorvalle was dié aand aangemeld nie. Ons is dankbaar daarvoor, maar ons sal nie rus totdat die kriminele vasgetrek is nie,” het Carel Botha, leier van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag, gesê.

Botha het ook die lede van AfriForum se Middelburg buurtwag, Hennie Bekker en lede van die Valke buurtwag reaksiespan, onder leiding van Jaun Herholdt, bedank vir die lang ure waar hulle vrywilliglik ’n daadwerklike poging aanwend om die N12 vir motoriste veiliger te maak.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button