CrimeLocal newsStreeknuus

Vermeende reeksmoordenaar lewenslank agter tralies, maar nog ‘n verhoor wag op Delmas

Die vonnis volg op die dood van sersant Marcia Mazibuko (43) van die Ngodwana Polisie en haar suster, Pretty Mazibuko (42), op15 Junie 2022.

Rassie Hlabirwa Nkune, ’n vermeende reeksmoordenaar wat verhoorafwagtend is vir ’n moord op Sundra verlede jaar is intussen twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op ’n polisiesersant en haar suster.

Die hooggeregshof in Mbombela het Nkune op 18 Mei gevonnis ná hy op beide aanklagte van moord skuldig gepleit het. Sersant Marcia Mazibuko (43) van die Ngodwana polisie en haar suster, Pretty Mazibuko (42), is op 15 Junie 2022 vermoor.

Nkune en Pretty het op die dag van die moord in die Kanyamazane-nedersetting buite Mbombela ’n argument gehad waarna Pretty in ’n blou BMW 1-reeks gevlug het.

Nkune het haar gevolg en ’n paar keer op haar geskiet. Hy het hierna na die woning teruggekeer waar hy vir Mazibuko geskiet en toe gevlug het.

In die moordsaak op Sundra was die byna lewelose liggaam van Christel Nkosi (26) in Augustus verlede jaar in ’n vlak graf op Sundra deur ’n verbyganger opgemerk.

Soos berig in Streeknuus (19 Augustus) het Nkune en Nkosi mekaar glo op Facebook ontmoet, maar hul eerste ontmoeting in die vlees was na bewering in Benoni op 6 Augustus 2022.

Tydens dié ontmoeting het Nkune haar glo met ’n vuurwapen gedreig en daarna na bewering gewurg.

Haar aanvaller het vermoedelik geglo dat sy reeds dood was toe hy haar in ’n vlak graf op Sundra agtergelaat het.

Hy het hierna in die slagoffer se Mercedes Benz op die vlug geslaan.

Nkosi was na die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas gehaas, maar het op 8 Augustus 2022 gesterf.

Voor haar dood kon sy egter belangrike inligting aan die polisie op Sundra verskaf en het onder andere haar moordenaar op Facebook identifiseer.

Die ondersoekbeampte in die moord van Nkosi, adjudant-offisier Eddie Rapakgadi van die Sundra SAPD het leidrade opgevolg en met die hulp van ’n provinsiale taakspan is Nkune op 11 Augustus verlede jaar in KwaThema, Springs in hegtenis geneem.

Volgens onbevestigde inligting sal Nkune aanstaande jaar vir die dood van Nkosi verhoor word.

Nkune word verder ook verdink van die moord op Hillary Gardee (28), dogter van die voormalige sekretaris-generaal van die EFF, Godrich Gardee.

Hillary was op 29 April vanuit Mbombela ontvoer. Haar liggaam is op 3 Mei 2022 in die bosse aan Sabie /Lydenburg-pad gevind.

Volgens inligting is dié saak intussen voorlopig teruggetrek.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button