Local newsStreeknuus

Cullinan se eerste boekfees is die naweek hier

Boeke wat bespreek word, kan daar en dan aangeskaf word en deur die skrywers geteken word.

Die historiese dorpie van Cullinan skud sy vere reg vir die Vrye Weekblad se eerste Cullinan-boekfees. Die fees vind plaas vanaf 14 tot 16 April by @Church in Oaklaan.

Die skilderagtige kerkie, wat nie meer in gebruik is nie, is deur Sir Herbert Baker ontwerp en in 1904 vir myners opgerig.

Die meeste van die sessies vind in die ruim saal plaas, met een sessie in die kerk. In die saal sit lesers by tafels aan en eetgoed en drank is deurentyd beskikbaar.

Leonie van Rensburg van Graffiti gaan ’n boekwinkel opslaan vir die geleentheid. Boeke wat bespreek word, kan daar en dan aangeskaf word en deur die skrywers geteken word.

Kaartjies kan aanlyn gekoop word by Quicket en daar sal volop veilige parkering beskikbaar wees vir boekwrums.

Die program verloop as volg:

14 April:
17:30: Daar’s ’n mier in my broek

Redakteursgesprek met onder andere Max du Preez, Piet Croucamp en Anneliese Burgess.
19:00: Ou diamantdorpse swierdinee

Aandete word deur Lientjie Wessels bedien by @Church. Dit beloop R400 per kop en moet bespreek word.

15 April:
09:00: Futility Farm en die Afrikaner se plaasgeen

Die skrywer Renée Rautenbach Conradie praat met Willemien du Preez oor Plaas se prys.
10:00: Hoe skryf mens ’n topverkoper?

Die boekeredakteur Phyllis Green gesels met Sophia Kapp en Leonie van Rensburg oor Heimwee en uitgee.
11:00: Rainbow Nation my Zulu Arse

Die kunsjoernalis Diane de Beer gesels met Sihle Khumalo oor sy onweerstaanbare oeuvre en sy nuwe boek, Milk the Beloved Country.
12:00: Van papier tot planke: Boeke op die verhoog

Die spreker en skrywer Gielie Hoffmann gesels met Mercy Kannemeyer, regisseur en gereelde VWB-bydraer.
14:00: Vrouespeurders tot die redding

Die radio-aanbieder en skrywer Ilse Salzwedel gesels met Bettina Wyngaard (Lokval) en Elizabeth Wasserman (Die fantastiese Mevrou Smit) oor hulle krimi’s.
15:00: Borrel, gorrel, smoeg en wroegVroue wat skryf, kan toor: Gerda Taljaard, Bettina Wyngaard, Renée

Rautenbach Conradie, Michèle Meyer, Celeste Theron, Emma Bekker en Marida Fitzpatrick gesels met Deborah Steinmair oor hulle werk.
17:00: ANC-biljoenêrs en rogues Max du Preez gesels met Johann van Loggerenberg en Pieter du Toit.

16 April:
09:00: Boekevat
Johan Myburg, Jolyn Phillips, Kirby van der Merwe, Eunice Basson, Martjie Bosman, Emma Bekker, Johann Lodewyk Marais, Pieter Odendaal en Jaco van der Merwe lees hulle poësie voor in die kerk.
12:00: StorieKosKuier

Frik de Jager gooi ’n langtafel by @Church waar elke gang van ’n storie begelei is; bespreek asseblief jou plek vooraf.

Spyskaart:
• Vars olyf-ciabatta met tuisgemaakte Peppadew-en-olyf-tapenade en mosterdbotter
• Waatlemoen-tamatie-kruisement-en-basiliekruid-gazpacho
• Tuisgemaakte tagliatelle met romerige salm-dille-en-kappertjiesaadsous
• Spanakopita met hollandaise
• Geurige Marokkaanse hoender met rooi lensies en gepekelde murgpampoen
• Nagereg: Vrolikheid op die Tong.

Lesers kan navrae rig aan: deborah.steinmair@gmail.com.

Related Articles

Back to top button