Local newsStreeknuus

Cullinan-kunsternaar, Willie Strauss, is besig met sy tweede kookboek

Hy is op sy gelukkigste agter die kospotte.

Willie Strauss, die self verkondigende plaasseun wie se kop, volgens hom, in die wolke is, is oorspronklik van Kenhardt in die Noord-kaap.

Nou al 18 jaar lank woonagtig in Cullinan, laat dié kunsternaar nie gras onder sy voete groei nie.

Strauss is tans besig met sy tweede kookboek wat in September by NB uitgewers vrygestel word.

As hy nie besig is om te skryf nie doen hy kabaret, hou opwip-restaurantdae by sy huis waar hy ook ’n rondkrapwinkel behartig, beoordeel kinderkunswedstryde, praat met Amore op RSG en doen ’n kosinsetsel met Jacques Botes op Pretoria FM.

Aanvanklik het Strauss nie ’n loopbaan in uitvoerende kunste gekies nie, maar, volgens hom, “as die verhoog in jou bloed loop dan moet mens dit eenvoudig net doen.”


Willie Straus by sy prag kuns huis in Cullinan.

Hy het drama op Pretoria Technikon gestudeer en is nooit weer weg uit Pretoria nie.

“Ek sal nie sommer hier trek tensy ek ’n huis by Bronkhorstbaai kan bekostig nie. Ek hou van water en sal graag by die dam wil gaan bly… eendag.”

Sy loopbaan het ’n op ’n organiese manier in die rigting van kos beweeg en hy geniet elke oomblik daarvan.

“Ek is gelukkig in my kombuis as ek staan en kook, nuwe resepte toets of net sien hoe mense my kos geniet. Dit is die lekkerste gevoel.”

Sy produksie Sing en Kook is ook baie gewild by gehore van alle ouderdomme en dit gee hom geweldige genot om op te tree.


LEES OOK: Sportfotograaf Wessel Oosthuizen terug op Val vir 80ste verjaarsdag


“As ek op die verhoog staan en sing, maak dit my gelukkig. As ek sien hoe mense dit geniet, maak dit al die harde werk vooraf die moeite werd.”

Vir Strauss is die teater ’n heilige ervaring, nie net as hy optree nie maar ook as hy deel uitmaak van die gehoor.

“Om in ’n teater te sit en die ligte en klank te ervaar, bly vir my heilig. Akteurs op die verhoog en daai towerkuns wat gebeur as die energie tussen die gehoor en akteurs net perfek sinkroniseer is ’n heilige oomblik wat ’n mens nie kan beskryf nie.”

Volgens Strauss is kunstenaars die spieëlbeeld van die mense rondom hulle en moet sodoende altyd eerlik met hulle werk wees.

“Mense moet hulself in jou werk kan herken en moet ook uitgedaag word. Of dit ’n toneelstuk is of liedjies wat jy sing, dit maak nie saak nie.

“As jy dit regkry om jou gehoor na die tyd te laat dink oor wat gebeur het op die verhoog dan het jy geslaag in jou doel om die gehoor uit te daag om na hulself te kyk,” het Strauss gesê.

Strauss maak elke dag ’n punt daarvan om vir drie dinge dankbaar te wees en los ons met dié wyse woorde:

“Maak vrede met jouself en lewe dankbaar. Dit het ’n lewensstyl geword waarby ek leef.”



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

 
Back to top button