CrimeLocal newsStreeknuus

Is daar ’n kruitvat op Delmas se voorstoep?

By nadere ondersoek was daar ’n 7.65 Luger-pistool sowel as ’n leë 9mm magasyn, versteek in die middelste konsole binne die Mahindra, gevind. By verdere navraag was daar bevestig dat die pistool in Januarie 2023 in Kwamhlanga as gesteel aangemeld was.

’n String inhegtenisnames het op die onlangse gewelddadige opstande op Delmas gevolg.

’n Totaal van 19 verdagtes het agter tralies beland vir klagtes wat wissel van openbare geweld, kwaadwillige saakbeskadiging, diefstal, oortredings van die Nasionale Padverkeerswet (Wet 93 van 1996) asook die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Een so ’n inhegtenisname het gevolg op ’n voorval by die Delmas Polisiestasie waar lede van die Middelburgse openbare orde eenheid (POP) van rubberkoeëls gebruik moes maak toe oproermakers versoek het dat diegene wat inhegtenis geneem is, vrygelaat moes word.

’n Wit dubbelkajuit Mahindra Karoo-bakkie, sonder registrasieplate het die amokmakers vervoer.

Tydens die voorval is die bestuurder van die bakkie in hegtenis geneem en is daar op die Mahindra beslag gelê.

’n 7.65 Luger-pistool en ’n leë 9mm magasyn was gevind waar dit in die middelste konsole binne die Mahindra versteek was. Dié pistool is in Januarie in Kwamhlanga as gesteel aangemeld.

Die bestuurder van die Mahindra is aangekla van die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Die inhegtenisnames het gevolg op die gewelddadige protesaksies wat sedert 9 Februarie by myne in die omgewing plaasgevind het.

Een veiligheidswag gedood en drie ander gewond en ernstige skade aan infrastruktuur aangebring. (Streeknuus, 17 Februarie).

Die opstokers het hul bedrywighede vanaf 19 Februarie in en om Delmas voorgesit toe die ingange na Delmas deur brandende bande versper was, voertuie beskadig en werkers verhinder was om na hul werksplekke te gaan. (Streeknuus, 24 Februarie).

Tydens ’n vergadering wat op 21 Februarie tussen die amokmakers, burgemeester van dieVictor Khanye Plaaslike Munisipaliteir (VKLM) Vusi Buda, mynverteenwoordigers, die Delmas Taxi Assosiasie (DTA) en ander rolspelers was ’n memorandum oorhandig.

Hiervolgens sou die stakers se eise onder meer insluit die verwydering van taktiese reaksie-eenhede by van die myne in die omgewing met onmiddellike effek, die in diensneming van inwoners van Victor Khanye as junior bestuur, operateurs en algemene werkers.

Daar was verder aangedring op die erkenning van tradisionele leierskap in Victor Khanye en so ook die insluiting by onderhandelinge insake besigheidsmoontlikhede wat voortaan by myne sou plaasvind.

Nog ’n prominente eis was dat die hofbevel wat ’n myngroep teen die opstokers bekom het teruggetrek moes word.

Daar was ook bystand geëis in die proses om kantore vir die ‘tradisionele owerheid’ te voorsien en dat dit van hulpbronne voorsien moet word.

Ongebruikte landbougrond moes ook aan die gemeenskap geskenk word om onder leiding van dié ‘tradisionele owerheid’ vir landboubedrywighede aangewend sou word.

’n Ultimatum van vyf dae om op die versoeke te reageer was ook in die memorandum aangebring. Dit sou op 27 Februarie verstryk.

Volgens betroubare inligting het ’n vergadering op dié dag by die polisie op Delmas plaasgevind waarin die betrokke myne om uitstel gevra het.

Streeknuus het verder ook uit ’n baie betroubare verneem dat ’n voorheen gesiene en baie prominente raadslid van die VKLM moontlik by die opstokery betrokke kan wees, siende die persoon se onlangse skorsing uit ’n politieke party op die dorp. (Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus).

Die groep van 19 wat op verskeie klagtes tydens die onluste in hegtenis geneem was, het op 23 Februarie in die Delmas Distrikshof verskyn. Volgens onbevestigde inligting is al 19 vrygelaat.

Intussen het besigheid in Delmas na normaal teruggekeer, maar hou inwoners steeds asem op vir dié kruitvat op hul voorstoep.


You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button