Local newsStreeknuus

Vrolike SAVF se vrouetee ten bate van dementia-vleuel

Die doel van die swierige oggend was om geld in te samel vir die splinternuwe dementia vleuel wat binnekort by Ons Eie Ouetehuis in bedryf geplaas gaan word.

Keurig gedekte tafels, heerlike eetgoed en sang deur die befaamde Helenè Bester het die gaste by die Suid Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se vrouetee begroet.

Die SAVF het op 25 Februarie ’n vrouetee ten bate van Ons Eie Ouetehuis op Delmas by die Hervormde Kerk op Delmas aangebied.

Die doel van die swierige oggend was om geld in te samel vir die splinternuwe dementia-vleuel wat binnekort by Ons Eie Ouetehuis in bedryf geplaas gaan word.

Volgens Sharon Rabie, bestuurder van Ons Eie Ouetehuis, is baie van die werk aan die dementia-vleuel reeds voltooi, maar kort daar ook heelwat.


LEES OOK: Oosterland-onnies samel kos in vir SAVF op Secunda


“Alle geld wat deur middel van dié vrouetee ingesamel is, sal vir die voltooiing van die dementia-eenheid aangewend word.”

Gasvroue van die sowat 17 vrolik en deftig gedekte tafels het gereed gestaan en hul gaste met heerlike eetgoed en drinkgoed bedien.

Helenè Bester het die gaste met gewyde liedere sowel as van haar gewilde Nana Mouskouri liedere vermaak.

Tussendeur het die agtergrondmusiek van Ester Scott die saal gevul.


LEES OOK: SAVF se Ons Eie op Delmas betuig dank tydens Kersfunksie


Elke gas het ook ’n geskenkie ontvang terwyl gelukkige nommers getrek was en sommige van die gaste met ’n groot bederf-geskenkpak weggestap het.

“Ek wil net vir elkeen wat in Ons Eie se geldinsameling belê het opreg bedank. Dankie ook aan elkeen wat ’n kaartjie gekoop het en ’n tafel geborg het,” het Rabie gesê.

Rabie het ook haar dank uitgespreek namens die diensbestuur, personeel en alle belanghebbendes in Ons Eie aan die finansiële borge.

“Elkeen wat kos gemaak het, geskenke geborg het. Sonder elkeen se unieke bydrae, sou die funksie nie moontlik gewees het nie.”




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button