Local news

Sportfotograaf Wessel Oosthuizen terug op Val vir 80ste verjaarsdag

Die onderskeiding van SA Sportfotograaf van die Jaar het hom ook te beurt geval, om nie te praat van die inpalm van sportfoto van die jaar by meer as een geleentheid.

Die bekende sportfotograaf, Wessel Oosthuizen, het sy 80ste verjaarsdag onlangs in styl by die Val Hotel gevier.
Gaste kon skouers skuur met ’n groot rugbynaam, Frik du Preez.

Wessel het sy bekende foto van Frik se duikslag en twee rugbyboeke aan Hoërskool Standerton geskenk.

Du Preez was ’n leerder in Standerd Sewe by die hoërskool en het as losskakel vir die tweedespan uitgedraf, met wyle Constand Viljoen sy senter.

Wessel is op 15 Februarie 1943, een van sewe kinders, op Val gebore.

Hy was op Laerskool Val, Standerd Ses en Sewe op Balfour en Standerd Agt, Nege en 10 by Volkies Heidelberg.

“Na matriek was daar nie geld vir universiteit nie,” het Wessel vertel.

Hy is lugmaggimnasium toe en het ’n fotografiekursus voltooi. ’n Man van die destydse Vaderland het hom na ses maande genader met die voorstel om persfotograaf te word.

“Ek het gedink ek sal vir ’n jaar werk en geld spaar om geoktrooieerde rekenmeester te word.”

Die koeël was egter deur die kerk want hy het na ’n week geweet, dít is sy roeping. Altesaam twee jaar by die Vaderland, twee jaar by Beeld en byna 39 jaar by die Citizen kan sy CV van getuig.

Na sy uittrede, let wel nie aftrede nie, het Wessel hom op sportfotografie toegespits. In ’n loopbaan wat oor 61 jaar strek, is vyf Olimpiese Speles, en vyf Rugby Wêreldbekers bygewoon.

Die onderskeiding van SA Sportfotograaf van die Jaar het hom ook te beurt geval, om nie te praat van die inpalm van sportfoto van die jaar by meer as een geleentheid.


Laerskool Witpoort presteer soos sterre tydens atletiekbyeenkoms


Op 76-jarige ouderdom is die Rugby Wêreldbeker in Japan bygewoon. Wessel is berese en het ’n maand gelede van sy 20ste besoek van Rusland teruggekeer.

Hy het hegte vriendskapsbande met die Russe gesmee en Lika Gorokhowa het Suid-Afrika in Augustus 2021 besoek.

Dié jong Russiese vrou, wat vlot Afrikaans praat, het vanaf Johannesburg na Kaapstad gereis. Albei het November 2021 hul boeke bekendgestel.

Iemand het die vraag gevra waar hulle ontmoet het en Wessel was nie onkant betrap nie.

“Ek het haar op die internet ontmoet.”

Lika het destyds gesê dat sy Wessel se grappe kan volg.

Dié koerantman is tans aan die timmer met boek nommer 32, wat in Mei bekendgestel word.

Sy dogter Heidi-Marie, is die laaste Springbok en eerste Protea-gimnas en Suid-Afrika se eerste Afrika-kampioen.

Sy seun Wessel (jnr), is in die drukkersbedryf en sy jongste dogter Nina-Celeste, het ’n M-graad in joernalistiek.

Kleindogter Zoè-Lee Botma, is ’n tweedejaar LLB-student by die Pukke.

By Oosthuizen is daar nie sprake van ophou nie.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

 
Back to top button