CrimeLocal newsStreeknuus

Familie bied beloning vir inligting oor fietsryer van Bronkhorstspruit se dood

Jan Vermaak is dood na tref-en-trap tussen Balmoral en Bronkhorstspruit.

“Ek is ok. Die kinders ook. Ons het onlangs my man begrawe so ons oudste dogtertjie (4) weet haar pappa is veilig in die hemel. Ons jongste (2) soek egter nog haar pappa.”

So vertel Nicola Vermaak, wie se man op 6 Januarie in ’n tref-en-trap ongeluk dood is.

Jan Vermaak, ’n ywerige fietsryer, is dié dag tussen 08:00 en 09:00 op die R104 tussen Bronkhorstspruit en Balmoral dood.

’n Silwer BMW het hom op sy fiets getref en toe weggery.

Volgens ’n ooggetuie, sowat 1km weg, was daar drie insittendes in die BMW.

Die motor het glo Vermaak van agter getref. Die motoris het met die motor omgedraai, saam met sy passasiers uitgeklim en toe weer terug in die motor geklim en weggery.

Volgens Nicola is haar man opslag dood.

Die Vermaaks se familie bied ’n beloning van R35 000 vir inligting wat sal help om die persone wat vir Jan se dood verantwoordelik is, vas te trek.

Die voertuig sal waarskynlik aansienlike skade op die voorste buffer en die linker hooflig en kantspieëltjie opgedoen het.

Enige iemand met inligting skakel 083 225 8777 of 083 592 8607.


Related Articles

Back to top button