Local news

Secunda-skrywer stel eerste vollengte boek vry

Adele Gill se roman sal binnekort beskikbaar wees.

Adele Gill (35) se eerste vollengte boek, Buigbare Bome, sal binnekort beskikbaar wees.

Buigbare Bome is deur ware gebeure geïnspireer. Dit vertel die storie van Bianca wat in moeilike omstandighede grootword.

Dit gaan oor haar daaglikse uitdagings van ’n pa wat ’n alkoholis is en dan geweldadig raak terwyl haar ma die pot aan die kook probeer hou.

Bianca het ’n noue band met haar broer, Jaco, wat die pad byster raak as jong volwassene en tronk toe is vir sy betrokkenheid by ’n moord.

Gill hoop dat haar boek ’n groot impak sal hê op mense wat geraak word deur drankmisbruik of verbale of fisiese mishandeling.

“Die boodskap wat ek met die boek wil oordra, is dié van vergifnis en dat dit wel moontlik is,” het Gill gesê.

Sy het dié boek in drie maande geskryf. Buigbare Bome is die vierde boek uit Gill se pen. Haar eerste boek, Lalie Lepel, is ’n kinderboek wat sy verlede jaar vrygestel het.

Haar tweede en derde boeke, Desember in die Kalahari en Die Uitweg, is slegs as e-boeke beskikbaar.

Hoewel Gill ’n liefde vir kinderboek het, wil sy nou meer fokus op boeke vir volwassenes, veral Christelike fiksie en nie-fiksie.

“Toe ek aan Desember in die Kalahari en Die Uitweg gewerk het, het ek uiteindelik my stem gevind en besef my hart lê by Christelike boeke,” het Gill vertel.

Sy werk reeds aan haar volgende boek, Scarlet Rooi.

Gill het in haar oupagrootjie, PJ van der Merwe wat destyds ’n boek Ons Halfeeu in Angola geskryf het, se voetspore gevolg.

Gill was as kind reeds lief vir lees en het gereeld by die biblioteek op Keimoes in die Noord-Kaap waar sy grootgeword het, sommer sewe boeke op ’n slag gaan uitneem.

Buigbare Bome is beskikbaar direk by Gill.

Belangstellendes kan haar skakel by 082 890 7212 of die e-boek-weergawe koop op Amazon Kindle by https://www.amazon.com/dp/B0BNX9T55J

Related Articles

 
Back to top button