CrimeLocal newsStreeknuus

Vermeende rower loop hom in stewige veiligheidsnetwerk op Delmas vas

Een van Cerberus Sekuriteit se K9’s het die verdagte gevind waar hy glo plat gelê het en homself met die digte riete toegevou het.

Rolspelers vanuit verskillende plaaslike veiligheidsfere het verlede week ’n vlugtende verdagte aan die polisie oorhandig.

Dié vermeende rower het omstreeks 13:00 op Donderdag, 17 November uit ’n polisievoertuig gespring en gevlug.

Die verdagte het agter die hof oor die Delmas-gholfbaan laat spaander en in die digte riete tussen Van der Walt- en Bredenkampstraat verdwyn.

In die proses van agternasit, het een van Delmas Polisie se voertuie boonop in ’n stormwatersloot digby die hof beland.

Die polisie het verskeie buurtwagte in die omgewing en privaat veiligheidsmaatskappye om bystand genader en die lede het blitsig reageer.

Hommeltuie is ingespan om die voortvlugtende op te spoor.

Intussen het Carel Botha, voorsitter van die AfriForum Delmas Valke Buurtwag die hulp van snuffelhonde ontbied.

Die K9-eenheid van Cerberus Sekuriteit was binne minute ook op die toneel.

Ten einde laaste het die gejuig van binne die digte riete, sowel as die toeskouers van ’n nabygeleë woonstelblok gekom.

Een van Cerberus se K9’s het die verdagte gevind waar hy glo plat gelê het en homself met die digte riete toegevou het.

Die hond, vergesel van sy hanteerder en ’n lid van die AfriForum Delmas Valke Buurtwag, het die verdagte uit die digte riete gebring waarna hy weer in hegtenis geneem is.

“Dit het behoorlik soos iets uit ’n Hollywood-fliek gelyk,” het ’n omstander Streeknuus meegedeel.

Al dié gebeure op Delmas het gevolg nadat die verdagte na bewering op Woensdag, 16 November omstreeks 23:30 ’n Bangladesjiese burger en sy oom by ’n winkel op Waaikraal beroof het.

Die twee slagoffers het glo wakker geword van ’n geraas in die winkel waar hulle geslaap het. Vier gewapende mans het die winkel binnegegaan en op geld aangedring.

Die rowers het die twee slagoffers aangerand en vasgebind waarna hulle met geld, kruideniersware, lugtyd en die sleutels van ’n ander winkel in die omgewing gevlug het.

Die slagoffers het daarin geslaag om hulself te bevry en het, met die hulp van bure, die polisie gekontak.
Op pad na Waaikraal het die Delmas Polisie op ’n wit Ford Bantam afgekom wat glo deur die verdagtes gebruik is.

Met die polisie se aankoms by die bakkie, het die verdagtes in verskillende rigtings laat spaander en die gesteelde goedere op die bakkie agtergelaat.

Hierna het een van die verdagtes hom as ’n ‘kapingslagoffer’ by die polisie in Benoni aangemeld.

Na die aanhoor van die getuienis het die Benoni Polisie die sogenaamde kapingslagoffer na die Delmas Polisiekantore geneem.

Dié het egter met sy aankoms op Delmas sy “gekaapte wit Ford Bantam” gewaar en besef dat hy in ’n lokval gelei is.

Hy het uit polisievoertuig gespring en laat spaander net om hom later in die veiligheidsnetwerke van Delmas vas te loop.

Teen druktyd sou die beskuldigde (27) op ’n klag van meineed in Benoni, sowel as twee besigheidsrowe op Delmas, aangekla word. Die ander drie beskuldigdes is steeds soek.

Kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van die Delmas Polisie, het namens die polisie haar dank betuig teenoor die partye wat betrokke was by die inhegtenisname van die vermeende rower.

“Dankie aan die Delmas Valke en Eloff- en Sundra Bulldogs vir jul hulp en die gebruik van hommeltuie. Dankie ook aan Shidiva Sekuriteit, CPI, die Delmas Anti-enkapingseenheid en Cerberus Sekuriteit vir jul hulp en die inspan van jul honde-span,” het Hartley gesê.

“Dit wys net weer eens watter positiewe gevolge samewerking kan meebring. Die Delmas Polisie waardeer elkeen van die rolspelers se bydrae opreg.”


Lede van die Delmas GPF begin met die soektog na die voortvlugtende in die digte riete.
Kaptein Salomé van der Westhuysen gee erkenning aan Hitler.
Hondehanteerder, Tiyani Baloyi en Rinkles.
Rossouw van Reenen van Cerberus Sekuriteit en Jaun Herholdt van die AfriForum Delmas Valke Buurtwag bring die vermeende rower uit sy skuilplek.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button