Local newsNews

In diens van die gemeenskap, oud-Delmasser terug op eie bodem

“Ek het tot die besef gekom dat my tyd in die sekulêre wêreld God-gestuurde tye was om my te bemagtig vir die bedieningsjare wat voorlê.”

Adriaan Benadie (38) is na etlike jare weer terug op sy geboortedorp, Delmas.

Benadie staan voltyds in diens van Tutela se voorkomings- en vroeë ingrypingspan. Hy is ook aktief betrokke by die N.G. Kerk Wesgemeente op Delmas.

Benadie het in 2012 sy meestersgraad in teologie (MDiv) aan die Universiteit van Pretoria voltooi en as predikant by die Nederduitsch Hervormde Kerk aangesluit. Na ’n jaar in die bediening, het Benadie egter weens vele uitdagings in sy persoonlike lewe, die bediening verlaat.

“Die universiteit van die lewe het my vir agt jaar in die sekulêre wêreld ’n pad laat stap waar ek in vele en verskeie bestuursposte gedien het,” het Benadie gesê.

Benadie het verder gesê dat hy in 2021 ’n intense roeping om na die bediening terug te keer, ervaar het.

“Ek het tot die besef gekom dat my tyd in die sekulêre wêreld God-gestuurde tye was om my te bemagtig vir die bedieningsjare wat voorlê. Vele lewenslesse het my bemagtig om vandag in diens van God en my medemens te staan.”

Benadie dien en skakel in by N.G. Delmas-Wes en sy visie is dat Delmas in geheel ’n gemeenskap sal wees waar daar deernis, omgee en respek vir God en medemens in liefdevolle verhoudings met mekaar, sal seëvier.


LEES OOK: Sasol Ringball Club hosts social day in Secunda


“Delmas-Wes is my geestelike tuiste en van die eerste dag wat ek hier ingestap het, het ek mense met opregte liefde en omgee ontmoet.”

Volgens Benadie is dit ’n voorreg om in die gemeente en gemeenskap te bedien.

“Delmas, my geboortedorp waarheen God my na soveel jare teruggestuur het. Mag ons almal strome van lewende waters vir mekaar wees, tot eer van God,” het Benadie afgesluit.

Related Articles

Back to top button