Local newsNews

Grensoorlog stem Keith Cousins van Standerton tot nadenke

Hy het die name wat eksoties klink soos die Caprivi-strook, Oshakati, Ruacana, Ondangwa en Katima Mulilo in herinnering geroep, maar die futiliteit van oorlogmaak het agtergebly.

’n Man wat weermag toe opgeroep is in die laat sewentigs, het die sluier gedeeltelik oor sy wedervaringe op die grens gelig.

Keith Cousins het veral die menslike aspek van troepe beklemtoon en die een verwysing na die voormalige Minister van Verdediging se dekreet toe dit nie meer een jaar, maar twee jaar diens was nie, het ingehoue emosies by soldate laat opvlam.

“Toe Magnus Malan dit aangekondig het, het sommige groot mans soos babas begin huil,” het Keith onthou.

Keith was destyds op Bethlehem gestasioneer en die troepe het een keer in drie maande of een keer in ses maande huis toe kon gaan.

“Ek was nog nie getroud nie, maar baie het gesinne en verloofdes agtergelaat.

“Baie het gesneuwel, huwelike het in die skeihof beland en daar was diegene wat hul eie lewens later jare geneem het.”

Die grensoorlog het van 1966 tot 1989 gewoed en Keith is vir drie-maande-kampe na die destydse Suidwes-Afrika en Angola gestuur om landmyne te ontlont.

Hy het die name wat eksoties klink soos die Caprivi-strook, Oshakati, Ruacana, Ondangwa en Katima Mulilo in herinnering geroep, maar die futiliteit van oorlogmaak het agtergebly.

“Bloedjong seuns het hul lewens verloor en die families het agtergebly.

“Ons is toegelaat om huis toe te skryf, hoewel dit gesensor is, die briewe van die huis is egter nie gesensor nie.”

By Keith het die positiewe van weermagopleiding soos goeie dissipline, eerlikheid en opregtheid ’n merkbare indruk gelaat.

“Jy bring jou kant of byt die spit af.

“As een man sou oortree, is die hele peloton gestraf.”

Hy het in Junie klaargemaak en daardie Desember met Petro in die huwelik getree.

Toe hy weer opgeroep is, was sy in kraam toe hy op die trein geklim het.

“Murphy’s Law wou dit hê dat ek na die geboorte van my tweede kind op die trein moes klim, daardie aand.”

Van Waterkloof-lugmagbasis al die pad tot op Grootfontein en die manne sit soos sardientjies in die vliegtuig.

“Ons weet nie wat om te verwag nie en besef dat jy enige tyd in ’n skermutseling kan sterf.”

Hulle het op ’n gegewe tyd daagliks tussen 40km en 50km per voet afgelê om seker te maak dat die pad skoon is.

Nadat ’n buffel by een geleentheid op ’n landmyn getrap het, was die weermagvoertuig met hul bagasie daarmee heen.

“As iemand nie daar was nie, weet hulle nie waarvan hulle praat nie.

“Dit was hel.

“Dankie Here, ek het niks oorgekom nie.”

Met hul rantsoene en een waterbottel van 1 liter, wat knaend volgemaak moes word, moes hul oorleef.

Keith het sonder ’n skrapie aan sy liggaam teruggekeer, maar het vir drie jaar traumabehandeling ondergaan.

Dié voormalige werknemer van die Departement van Waterwese het ’n mediese fonds gehad, wat nie vir ander beskore was nie.

“Jy dink jy is sterk, jy is ’n man en kan dit agter jou sit, maar dit haal jou een of ander tyd in.”

Wyle Dawid Redelinghuys, sielkundige, het sy pasiënt vanaf 1992 na emosionele herstel gelei.

Keith en Petro se dogters is lankal uit die huis en hulle spog met drie kleinkinders, een seuntjie en twee dogtertjies.

Hul huwelik strek oor meer as vier dekades.

Dié familievaste man is afgetree en deur die lewe gebrei.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button