Local newsNews

Dwelms maak kleingeld van lewens op Standerton

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het ’n program, waaraan geen kostes verbonde is nie, om dwelmverslaafdes te help.

Dwelms blyk vrylik beskikbaar te wees.

Gegewe die aantal dwelmverwante sake wat deur die polisie oopgemaak word en waaroor berig word, is dit blykbaar slegs die oortjie van die seekoei.

Die Standerton Advertiser het op Vrydag 28 Oktober kers by die SAVF in Schwickardstraat, Standerton opgesteek.

Hanlie Brits, een van die maatskaplike werkers, het gesê dat dit ’n groot probleem is en dat hul organisasie kinders moes verwyder van ouerhuise waar dwelms hoogty vier.

Brits het aangedui dat veral jong mammas en jong mense onder sulke probleme gebuk gaan.

Op die vraag oor watter dwelms die meeste gebruik word, het sy geantwoord dat dit afhang van die gebied waarvan die dwelmafhanklikes afkomstig is.

“Terwyl tik merendeels in die Kaap so ’n rol speel, het dit nou hier kop uitgesteek,” het sy ook gesê.

Die kommunikasiebeampte van die Standerton Polisie, kapt. Gibi Mtsweni, het verlede week gesê dat die polisie daadwerklik optree as inligting ontvang word.

Dwelmverwante misdade kom meer gereeld voor.

Nyaope, dagga, metamfetamien (crystal meth) en ook heroïene is vir sommiges die enigste antwoord op lewensuitdagings.

Na ’n internetsoektog is gevind dat die rehabilitasiepersentasie vir dwelmafhanklikes moeilik is om te bepaal, omdat data nie geredelik beskikbaar is nie.

Volgens die National Institute of Drug Abuse soos op 21 April verlede jaar, sal tussen 40% tot 60% van mense wat rehabilitasie ondergaan het, weer in hul ou gewoontes terugval.

Die Wêreld Gesondheidsorganisasie se syfers spreek die probleem direk aan.

Volgens hulle, is dwelmgebruik in Suid-Afrika dubbeld die wëreldnorm en 15% van Suid-Afrikaners het ’n dwelmprobleem.

Inwoners op Standerton is hoeka op hul hoede vir die straatlopers wat naarstiglik op soek is na hul volgende bedwelmingsensasie.

’n Sakeman op die dorp wat nou betrokke is by ’n sopkombuis vir die haweloses en verkies om anoniem te bly, het op 28 Oktober bevestig dat dit ’n maatskaplike probleem is.

“Die mense verloor hulle werk en eindig op straat op,” het hy gesê.

“Ek het destyds probeer dat diegene wat skoon is ’n waarskuwing by hoërskole kan rig oor die gevare daaraan verbonde.”

Geeneen was bereid om na vore te kom nie.

“Hulle het eens op ’n tyd ’n vrou, ’n werk, ’n huis, ’n motor gehad en nou het hulle niks.”

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het ’n program, waaraan geen kostes verbonde is nie, om dwelmverslaafdes te help.

Volgens die sakeman, stem dwelmversaafdes nie maklik in om rehabilitasie te ondergaan nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button