Local newsNews

Delmas VLU-tak plant ’n geelhoutboom vir die toekoms

“’n Boom gee vir ons kleinkinders skaduwee en wat is dan beter as juis hierdie Henkel geelhoutboom om die hoop op die toekoms van môre te illustreer.”

Met die Vroue Landbou-unie (VLU) van Delmas se tema vanjaar, ‘ons glo in môre’, kon dit nie anders as om dan juis ’n boom te plant nie.

Gegrond op dit wat Audrey Hepburn eens gesê het: “To plant a garden is to believe in tomorrow”, het die tak vir hul jaarprojek op Donderdag, 6 Oktober ’n geelhoutboom geplant.

Die boom is op die perseel van die Hervormde Kerk op Delmas geplant. Daar is met groot sorg beenmeel, goeie kompos, asook erdwurm-kompos, met die grond gemeng voordat die boom sy staanplek in die grond gekry het.

Susan Cronjé het, graaf in die hand, die finale afronding gedoen. “Die ander vroue het met opmerkings en aanbevelings mondelings aanmoediging bygegooi,” het die skakelbeampte, Magriet Swart gesê.

Volgens Swart is dit ’n Poducarpus Henkelii of gewoonweg bekend as Henkel se geelhoutboom. Dit kan tot 20m hoog word en die stam kan tot drie meter in deursnee bereik. “Dit is ’n stadige groeier, maar langslewend.”

“Wat dan nou beter simboliek vir ons Delmas-tak se jaarprojek as hierdie majestueuse boom wat tot tweeduisend jaar oud kan word? ’n Boom gee vir ons kleinkinders skaduwee en wat is dan beter as juis hierdie Henkel-geelhoutboom om die hoop op die toekoms van môre te illustreer.”

“Ek is die gelukkigste vou noudat my 10-jaar-oue boom uiteindelik die perfekte staanplek gekry het,” het Swart bygevoeg.

“Die dag se boomplantverrigtinge het ook weer die vroue saamgesmee. Te midde van so baie negatiwiteit in ons land, is daar ongetwyfeld sterk leiers wat positiewe seine uitstuur. In menige ramptoestand spring mense uit die niet te voorskyn om met hulp by te staan.

“Uitdagings veroorsaak dat mense met asemrowende planne vorendag kom. Met goeie verhoudings word bande gesmee en negatiwiteit na hoop omgeswaai. Ons sal aanhou en uithou.”

Die voorsitter Marié Terblanche nooi alle belangstellende vroue, ouers as 18 jaar, om deel te word van die dinamiese groep vroue van die Delmas VLU-tak. Sy kan by 083 968 2203 geskakel word.

“Kom smaak die bevrediging van kreatiwiteit en leersaamheid op gesellige wyse.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button