Local newsNews

Charmaine Kleynhans van Standerton is nie bang vir uitdagings nie

Die Kleynhanse het nadat Shofar op die dorp toegemaak het, ’n tuiste by Marc-Ministries op Kriel gevind om hul liefde vir die gemeenskap uit te leef.

Charmaine Kleynhans het van ’n klein myndorpie, Rietspruit, op Standerton opgedaag toe sy drie jaar oud was en Meyerville is nou waar sy woel en werskaf.

“Ek het nog altyd ’n kreatiewe streep gehad,” het sy laat blyk.

Laerskool Kalie de Haas en Hoërskool Standerton is haar alma maters en ook die beproefde keuse vir haar kinders, Lianell, die tiener en Gabriel, ’n Klitsie.

Die ouderdomsverskil tussen dié sussie en boetie sorg dat sy op haar tone gehou word tussen ’n tiener en ’n kleuter.

“Hulle is baie lief vir mekaar, hoewel hul soms baklei soos enige broer en suster.”

Haar dokter het destyds nie gedink dat sy nog ’n baba sal kan hê nie nadat vrugbaarheidskomplikasies gediagnoseer is, maar met die simptome van ’n swanger vrou, het die sonar aangedui dat ’n laatlam op pad was.

’n Mens kon John Paul, beter bekend as JP, en sy vrou met ’n veertjie omtik.

Haar familie se kinders noem haar die kwaai, ou tannie omdat sy ’n wakende oog oor haar kinders se selfoongebruik hou en die webwerwe wat hul besoek, nagaan.

“Kinders moet weer kinders word en buite gaan speel. Gabriel het sy gewone buitelugroetine.”

Tweetaligheid vier hoogty by die Kleynhanse en Gabriel se voertaal is Engels nadat hy daarop besluit het.
Charmaine sal graag Italiaans wil leer en vind die taal sjarmant.

JP is ’n senior tegnikus by Eskom Rotek Industries en het haar in die diepkant ingegooi dat sy moes swem toe dit by rekenaars en driedimensionele drukwerk kom.

“Gaan voort en as jy nie regkom nie, dan roep jy my.”

Wat begin het as ’n stokperdjie, het nou ’n onderneming geword. Charmaine is vas oortuig dat ’n mens soms moet wegstap van ’n projek om ’n ander perspektief daarop te kry.

Tussendeur het sy sleutelhouers vir die parkrunners gemaak as hul die 100-mylpaal bereik en dit aan hulle geskenk.


LEES OOK: Massiewe vrag eiers is veilig na kaping buite Delmas gefnuik is


Die Kleynhanse het nadat Shofar op die dorp toegemaak het, ’n tuiste by Marc-Ministries op Kriel gevind om hul liefde vir die gemeenskap uit te leef.

Sondae val hul reeds 06:30 in die pad om die diens om 08:00 by te woon. JP is ’n man vir die Bosveld, terwyl Charmaine die Suidkusvakansies terdeë geniet. Die seebene van ’n vrou wat karsiek word, is getoets tydens ’n bootrit op die MEC in 2020.

“’n Ongelooflike pilletjie die eerste aand het gehelp en daarna het ek dit te veel geniet om my te bekommer dat ek siek gaan word. Ons het op 10 Februarie afgeklim en die grendeltydperk het amptelik 15 Maart begin.”

’n Bootrit in 2025 word in die vooruitsig gestel.

“Ek hou van uitdagings en daar is niks so lekker as om met jou hande te werk nie,” het Charmaine spontaan gesê.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button