Local newsNews

Marnu Prinsloo (6) van Secunda sterf weens bloedkanker

Ouers is ontsteld omdat hospitaal hulle nie by Marnu wou toelaat.

SECUNDA – Marnu Prinsloo (6) het op Sondagaand, 7 Maart, sy stryd teen kanker verloor.

Marnu is in 2017 met leukaemia gediagnoseer en het in Julie 2019 sy behandeling voltooi.

Hy het egter op 25 Augustus verlede jaar ‘n terugslag gehad en moes weer vir behandeling gaan. Hy moes ook ‘n beenmurgoorplanting kry.

Die gesin het verlede jaar vir hom ‘n skenker gesoek en sy vriende en familie het vir toetse gegaan, maar nie een van hulle was geskik om as skenker op te tree nie.

Hy was in Steve Biko Hospitaal in die intensiewe sorgeenheid toe hy dood is en sy ouers, me. Annezell van Rensburg en mnr. Pieter Prinsloo, is ontsteld omdat die hospitaalpersoneel hulle nie wou toelaat om Marnu te sien nie.

Me. Van Rensburg kon hom gisteroggend vir vyf minute sien, maar die res van die dag, nadat sy hospitaalpersoneel gesmeek het om haar by haar seun toegelaat te word, het hulle geweier en net gesê hy is stabiel.

“Ek is sy ma, ‘n ma weet, ek het gesê hy is nie stabiel nie en ek wil hom sien, maar hulle het net geweier,” het me. Van Rensburg vertel.

Marnu Prinsloo toe hy in Desember tuis was.

Die familie is toe maar na die plek waar hulle oorslaap. Hulle het skaars daar aangekom toe die hospitaal geskakel het en gesê het dit gaan nie goed met Marnu nie, hulle moet dringend hospitaal toe gaan.

“Toe ons daar aankom, was sy kamer se deur oop en ‘n klomp dokters was besig om hartmassering op hom te doen en hom te probeer bybring.

“Hulle het vir 25 minute probeer en hy het op ‘n stadium bygekom, maar toe is hy weg.”

Marnu was op Woensdag, 3 Maart nog in die onkologie-afdeling se gewone saal van die hospitaal en het toe begin opgooi en maagwerkings kry. Hy het ook gesukkel met koors en ‘n infeksie en hy het dié dag flou geval.

Hospitaalpersoneel het hom weer bygekry en hy is oorgeplaas na die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal.

“Hulle het vir my gesê hy sal net so 10 dae in die intensiewe sorgeenheid wees en dat dit sy lae bloeddruk en adrenalien was wat die floute veroorsaak het.

“Hy sou Sondag weer na die gewone saal oorgeplaas word.”

Marnu het egter vroeër Sondag gekla dat hy sukkel om asem te haal en teen 7nm die aand was alles verby.

Me. Prinsloo het gesê sy sal Marnu onthou as ‘n kind wat liefdevol, vol lewe, spontaan, uniek, spesiaal en baie saggeaard was.

“Hy was baie lief vir mense,” het sy gesê.

Marnu sou later vanjaar ‘n beenmurgoorplanting kry en me. Prinsloo wou hom op Maandag, 8 Maart na Unitas Hospitaal laat oorplaas.

“Nou is dit te laat,” het sy gesê.

Die gesin was op ‘n 12 maande-wagtydperk van ‘n nuwe mediese fonds.

Marnu sou op 29 Maart sy sewende verjaarsdag gevier het.

Related Articles

Back to top button