BlogsEditor's noteOpinion

Gim-sessie reg uit die hel

Na talle ander “ligte” opwarmingsoefeninge, wat daartoe gelei het dat ek naalde en spelde in my vingers begin voel het, daag Lynette op, en ou Barry Hilton se gesegde val my by, nou gaan ons braai, of altans ék!

My alterego is ’n masochis, sonder die seksuele konnotasie, net die tipe wat vir onverklaarbare redes van pyn en lyding hou.

Waarom? Want na bykans 10 jaar laas in ’n gimnasium, het ek hierdie eienaardige begeerte ontwikkel om weer aan te sluit.

Dinsdag stap ek met met my strandbal-figuur die plaaslike gim binne en ontmoet my instrukteur, Johan Lubbe.

Ek haat dit om laat te wees vir ’n afspraak en daarom besluit ek om so 15 minute vroeër, 5.15nm, op te daag, dit was my eerste fout…

Ek vertel vir Johan dat ek ’n gesin het en dat ek hulle graag weer wil sien na my eerste sessie.

Hy lig my in dat sy vrou, Lynette, my nuwe kardio-instrukteur, gewoonlik eers omstreeks 5.45nm opdaag, maar dat ons solank met “ligte” opwarmingsoefeninge kan begin.

Die eerste spoedhobbel is my lengte, 1.70m, want ek kan nie die gim-apparaat wat ek tot teen my bors moet trek, bykom nie, gelukkig volgens Johan, is die apparate wat ons later sou gebruik, meer vir beenoefeninge geskik en dié sal nie soortgelyke uitdagings bied nie.

Terwyl ons opwarm en siende dit Johan en Lynette se gim is, stel hy my gerus dat ek maar op die bankiesitvlak kan staan om die handvatsels by te kom en dan daarmee moet gaan sit, min wetend dat sodra die stel klaar is, ek dieselfde roete moet volg, nie as nie, maar wanneer my spiere my in die steek gaan laat en ek die gewig weer moet laat sak.

Na vyf stelle van 12 herhalings (reps) en ongemaklike klim en klouter, tap die sweet my af en dit lyk soos wanneer die Vaalrivier in vloed is, gelukkig het ek ‘n handdoek gehad, want om te verdrink is een van my grootste vrese!

Na talle ander “ligte” opwarmingsoefeninge, wat daartoe gelei het dat ek naalde en spelde in my vingers begin voel het, daag Lynette op, en ou Barry Hilton se gesegde val my by, nou gaan ons braai, of altans ék!

Na so uur van oefen saam met Johan, oortuig ek myself dat ek eintlik goed vaar en dit is so ampertjies of ek glo myself, want Johan vertel dat ek nog net twee stelle oor het voordat ek klaar is vir die dag.

Ook maar goed, want my bene begin toe soos herfsblare in die wind skud.

Ek is uiteindelik klaar…of so het ek gedink!

Nou was dit Lynette se beurt om my tot op my fondasie af te breek met kardio-oefeninge.

Die eerste stel van 30 opsitte (sit-ups) was ek wragties in my noppies met myself, salig onbewus dat ons vir slegs vyf sekondes sou rus voordat ons met fietsry-opsitte sou begin.

Dit het nie lank geneem voordat mý fiets ‘n pap wiel het nie en Lynette gee my slegs drie sekondes om te herstel, maar my brein was te moeg om binne slegs drie sekondes die boodskap vir my longe deur te gee en ek kon nie anders as om ses sekondes te neem nie.

Hierna moes ek my liggaamskern (core) met “plank-oefeninge” (planking) versterk, maar as ek myself kry, dan lê ek plat op my maag, hygend na asem en al wat ek plank, is my naam!

Na dié hel waardeur Lynette my, met militaristiese presisie gesit het, besef ek opnuut watter “great” ou Johan was toe ons vroeër so lekker geoefen het.

Nietemin, my alterego het besluit, dat ons dit nogmaals sal aandurf.

Related Articles

Back to top button