LettersOpinion

Trieng-trieng…wie praat nou?

Wat het geword van “Hallo, ek is Jan, kan ek asseblief met Sannie praat?”

Telefoonmaniere of die gebrek daaraan maak menige mens die harnas in.

Dit sou al met jou gebeur het dat jy die selfoon beantwoord van ’n private nommer en die ongeduldige stem vra terstond “Met wie praat ek nou?” of “Waar is ek nou?”.

Of om in die privaatheid van jou huis gebombardeer te word met ’n persoon wat verwag dat jy eers jouself identifiseer om vir hulle gemoedsrus te gee.

Sou dit nie meer van pas wees om as jy bel na iemand anders, jouself te identifiseer en te sê met wie jy wil praat nie?

Met veranderde kulturele gebruike is die vraag oor hoe dit met jou gaan gewoonlik eerste, maar dit word gevolg deur die doel van die oproep en die naam van die persoon.

Wanneer jy iemand reghelp oor telefoonetiket, is die reaksie byna nooit positief nie.

Die gebelgde, verontriefde mens is nou seergemaak en die res van die gesprek vlot nie omdat jy kwansuis nie die reg het om só te reageer nie.

Ondernemings se skakelbord word gewoonlik beman deur iemand wat jou met die intrapslag laat weet waar jy uitgekom het.

Met privaatheid en veiligheid wat baie mense vooropstel, is dit ook nie toevallig dat jy nie dadelik jouself wil identifiseer met ’n oproep van ’n onbekende nie.

Die lot van telebemarkers kan betreur word wat die onbenydenswaardige doelwit het om ’n produk of diens aan jou te verkoop.

Wetende dat sommige slegs op kommissie werk, hou jy jouself in selfs na die geykte rympie dat die oproep opgeneem word.

Sommiges blaas gou die aftog as die wortel voor die neus nie werk nie, terwyl ander ’n Oscar vir doelgerigte uithouvermoë moet kry.

Wat het geword van “Hallo, ek is Jan, kan ek asseblief met Sannie praat?”

Mens kan net wonder wat die destydse gesaghebbende oor etiket, Emsie Schoeman, sou sê.

Deur: Marina Schoombee

Related Articles

Back to top button