NewsSchools

Yané van der Merwe van Secunda verbeter SA-rekord met 4m

Gestremde atleet van Secunda verbeter die Suid-Afrikaanse spiesgooirekord.

SECUNDA – Yané van der Merwe glo met die regte gesindheid kan ’n mens die dinge wat jou aan bande lê, oorkom.

“Moenie dat iets kleins, soos ’n gebrek, jou negatief maak nie,” is haar boodskap.

Dié gr. 12-leerder en lid van die leerlingraad van Hoërskool Secunda het oor die Paasnaweek aan die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap vir gestremdes in Bloemfontein deelgeneem en die spiesgooirekord in haar afdeling vir vroue 0/20 met 4m verbeter.

Yané neem in die F44-afdeling (atlete met een ledemaat onder die heupe wat nie werk nie) deel. Sy is met ’n klompvoet gebore en het sedert geboorte al sowat 18 operasies ondergaan.

Die eerste daarvan was op die ouderom van ses weke.

Haar regterbeen en voet is baie kleiner en dunner as die linkerbeen. Sy kan nie op haar regterbeen steun nie en kan dus uiteraard nie daarop vastrap nie.

Daar is ook geen rotasie op haar regtervoet nie. Yané speel nietemin ook graag hokkie en krieket vir haar skool.

Lees ook: Leandri Lamprecht mik hoog

“Ons het haar van kleins af so normal as moontlik grootgemaak. Sy het geleer om onafhanklik te wees en die been pla nie so baie nie, behalwe wanneer ons skoene moet koop,” het haar ma, me. Bezhell van der Merwe, vertel.

Skoene koop is altyd ’n dilemma omdat die regtervoet ’n nommer vier skoen is en die linker een in ’n nommer ses skoen pas. “Ons moet meestal twee pare van diesefde skoene koop.”

Yané se nuwe SA-spiesgooirekord is nou 26,53m. Sy het op die kampioenskap ook tweede in gewigstoot met ’n 4kg-gewig gekom in ’n afstand van 8,05m en tweede in die diskus met ’n afstand van 21,53m.

Yané het boonop ’n nuwe uitdaging, die 100m-naellope, ook gewen.

Sy beoefen spiesgooi sedert gr. 6. Sy en haar ouers het twee jaar gelede besluit dat sy by die Is Ability Sports Club moet aansluit waar sy al vir vyf jaar deur mnr. Frik Stander afgerig word.

Sy het verlede jaar só goed gevaar dat sy vir die International Wheelchair and Amputee Sports (I Was) World Games gekwalifiseer het. Sy het aan die begin van Desember aan dié kampioenskap wat in Villa Real de Santo Antonio, Portugal, gehou is, deelgeneem.

Daar het sy ’n goue medalje in spiesgooi 0/18 verwerf, ’n bronsmedalje in gewigstoot en het ’n vierde plek in diskus behaal. Sy mik om eendag aan die Paralimpiese Spele deel te neem.

Yané wil ook volgende jaar onderwys studeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button