Simmentalers laat Mokopane inwoners glimlag

Die simmentalerbeeste was met groot opgewondenheid verwelkom en die kamaras het geflits toe die parade van pragdiere deur die stalletjies beweeg.

MOKOPANE – Die Bosvelders het vanjaar kennis gemaak met die eerste Bosveld Boerefees wat plaasgevind het by Polokwane Vleissentraalterrein tussen Mokopane en Polokwane.

Dit was ‘n feestelike geleentheid waar die klem geval het op die simmentalerras.

Die simmentalerbeeste was met groot opgewondenheid verwelkom en die kamaras het geflits toe die parade van pragdiere deur die stalletjies beweeg het en gestop is om foto’s te neem.

Beeste van Deklar Simmentalers van Des Vermaas en kuddebestuurder Pieter de Villiers, Wensim Simmentalers van Willie O’Brien en Schosim Simmentalers van Mario en Dalien Scholtz was ‘n groot trekpleister.

Hennie Kruger, ‘n kommersiële beesboer van Mokopane het drie groepe verse vertoon om die waarde van die simmentalerkruising te verduidelik.

• Die simmentaler- en bonsmarakruising.
• Die simmentaler- en brahmaankruising.
• Die simmentaler- en ngunikruising.

Eersteplek wenner van die fotokompetisie, Madelein Potgieter.

Kruger het ‘n kort oorsig oor die rasse en sy besonderse kenmerke voorgehou waarna daar twee kompetisies gevolg het.

In die eerste kompetisie kon die publiek ‘n foto neem saam met enige van die diere en die foto per whatsapp indien. Groot was Madelein Potgieter se verrassing toe sy as wenner van die fotokompetisie aangewys is.

Tweede was Jaqualine Koster en derde was ‘n kombinasiefoto van Nicole Rouse en Leandri van Schalkwyk.

In die tweede kompetisie kon die publiek ‘n slagspreuk oor die Simmentalerras gee. Die beoordelaars het behoorlik kopgekrap om die wenners te bepaal.

Leandri van Schalkwyk en Nicole Rouse was saam derde in die fotokompetisie.

Dalien Scholtz het die eerste plek opgeraap met haar slagspreuk ‘Simmentaler Simply Special’ gevolg deur Thomas Prins met ‘Vleis, melk en kaas, Simmentaler bly bobaas’ en derde was Pieter Venter, met ‘Simmentaler, die keuse van kampioene’.

Nog twee slagspreuke het uitgestaan: ‘Melk en vleis, ‘n Simmentaler sal jou wys’ en ‘My hart sal wees vir ‘n Simmentalerbees’.

Willie O’Brien vertel die fees was ‘n groot sukses, hoewel die voete maar nog bietjie aan die min kant was.

“Dit is ‘n fees wat nog in sy kinderskoene is weens die feit dat die fees vanjaar vir die eerste keer aangebied is.”

Hy voeg by dat die uitstallers moeite gedoen het en dat daar verskeie dinge was om te sien en te koop van voertuie tot implemente, en vele meer.

Volgende jaar beplan die Bosvelders ‘n volwaardige skou en hoop om inskrywings van oraloor te kry.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button