Smag na ‘n baba van hul eie

Franciska Austin is in 2021 met endometriose gediagnoseer en nadat sy geopereer en ‘n gewas verwyder is, het die dokter vir haar gesê sy sal binne drie maande swanger wees.

POLOKWANE – Franciska Austin is ‘n omgeemens – iemand wat uit haar pad sal gaan om ander te help.

Van kleins af droom sy om ‘n veearts, polisiebeampte of juffrou te word.

Vandag is sy die trotse ma van 30 jong siele in haar klas, maar haar hart smag na een van haar eie.

Tot dusver is dit haar nie beskore nie, maar sy en haar man, Armand, bly hoop en glo.

“Na reproduktiewe kwessies in my eerste huwelik het en na ek en Armand getroud is, gehoop alles sou uitwerk. Maar elke maand was daar hoop en dan weer trane. My
werk is my passie, maar dit maak nie dat ek minder smag na my eie pienkvoet nie.”

Franciska is in 2021 met endometriose gediagnoseer en nadat sy geopereer en ‘n gewas verwyder is, het die dokter vir haar gesê sy sal binne drie maande swanger wees.

Drie jaar het verbygegaan, en steeds is daar nie ‘n baba nie.

Die egpaar het mettertyd gehoor dat die enigste manier waarop Franciska sou kon swanger raak, deur vrugbaarheidsbehandeling is, maar met die wete dat so iets duisende rande kan beloop, was hulle verpletter.

“Ek het op Vitalab Vrugbaarheidskliniek afgekom en met hulle kontak gemaak. Hier het ons kwotasies vir drie prosedures gekry waarvan in vitro-bevrugting (IVF) die
geskikste prosedure is.”

Hiér het die dokters vasgestel dat Franciska se baarmoeder hartvormig is, wat die kanse op swangerskap nog skraler maak. Hiervoor moes sy geopereer word en die egpaartjie het geld geleen vir die prosedure.

“Die eiersel kon nooit aan my baarmoederwand vasheg nie, en ek is dankbaar dat ek nooit ‘n miskraam, wat die gevolg sou wees, gehad het nie. Ek sou nie daardie teleurstelling ook kon hanteer nie. Ek moet nou in Maart weer vir ‘n opvolgbesoek aan die dokter gaan, waarna ons die pad vorentoe sal bespreek. IVF kos ongelooflik baie geld, en ons maak allerhande planne om die geld in te kry. Ons medies is ook onlangs gekanselleer.”

Franciska sê daar is tye wat dit moeiliker gaan as ander kere, soos toe albei haar susters swanger geraak het, en wanneer sy ‘n ooievaarstee bywoon. “Ek is opreg bly vir
die ander mammas, maar die seer in my hart bly daar.”

Op die muur in Franciska en Armand se sitkamer is ‘n versameling foto’s van Killer, ‘n worshond.

“Hy was soos my kind, en ek het hom so genoem ook. Ons was heeltyd saam, maar dit maak nie op vir ‘n mensbaba nie.”

Armand en Franciska is reeds vier jaar getroud en haar liefde vir Armand se seun uit ‘n vorige verhouding, Caleb, is onbeskryfbaar. Vir haar is Caleb haar “Apie”.

“Ek droom van die dag waarop ek ook die vreugde van swangerskap kan ervaar. Ons besef daar is ander mense wat ook ondersteuning nodig het, en ons respekteer elkeen. Vir ons is hierdie saak uiters belangrik, en dit is die kern van ons hoop en begeertes.”

Die egpaar kort meer as R150 000 om die lening vir die aanvanklike operasie terug te betaal en die koste vir die IVF-behandeling by te bring.

“Ek lê my hart bloot om hulp te vra om my droom om ‘n ma te word, waar te maak.”

Bank Besonderhede as jy wil bydra”

Rekeningnaam: F. Austin.
Bank: Tyme Bank.
Spaarrekening
Rekeningnommer: 5108 926 2709
Verwysing: IVFFunds

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version