KidsParenting News

Só gemaak met die jongspan se toegang tot tegnologie

Dr. Johan Smith verduidelik die gevare van tegnologie en toegang tot die internet vir jou kind.

POLOKWANE – Ons leef in ‘n wêreld waar selfone, tablette, en slim TV’s aan die orde van die dag is.

Toegang tot tegnologiese toestelle en die internet het oor die jare makliker geword. Saam met hierdie vrye toegang is daar verskillende gevare, volgens dr. Johan Smith.

“Ek is nie teen die gebruik van tegnologie nie, maar dit moet reg bestuur word. Tydens ‘n speletjie op ‘n slimfoon of TV, neem die speler die rol van die karakter aan en word dié rol die kind se identiteit. In hierdie geval help die speletjie om eensaamheid te beveg en kompenseer vir ‘n lae selfbeeld. Speletjies verswak egter jongmense se kommunikasievaardighede.”

Gevare:

  1. Internetverslawing: “Verslawing aan die internet is vir die eerste keer in 2012 opgemerk na kenners ‘n MRI-skandering van twee verskillende breine geneem het. Die kenners het gesien daar is fisiese veranderinge in die verslaafde se brein. Hierdie verslawing het dieselfde effek as dwelmverslawing op jou brein.”
  2. Skermverslawing: “Daar is ‘n toestand genaamd ‘atrofie’ wat ‘n verlies aan breinweefsel te weeg bring. Dit tas jou frontale lob, wat verantwoordelik is vir beplanning en organisering, striatum wat sosiale onaanvaarbare gedrag onderdruk, en insula, wat jou omgee area is, aan.”
  3. Pornografie: “Daar is miljoene pornografiese webtuistes tot jou kind se beskikking. Die ouderdomsgroep wat dié webwerwe die meeste besoek is tussen 12 en 17 jaar. Kinders in hierdie ouderdomsgroep stuur ook soms vir mekaar kaal foto’s, in plaas daarvan om slaap in te kry.”
  4. Vreemdelinge: “Vals profiele word dikwels oopgemaak en kinders is gereeld slagoffers vir hierdie profiele. Hier uit vloei ontmoetings, verkragtings en ontvoerings.”
  5. Aanvaarkultuur: “Aanvaarkultuur is ‘n subtiele kultuur waar die jongmense ‘n manie het om aanvaar en van gehou te word. Alles gaan oor volgers en aandag op sosiale media. Ons moet ons kinders leer dat dit nie belangrik is nie.”

Smith se raad aan ouers:

  1. Hê toegang tot jou kind se foon.
  2. Beperk skermtyd vir kinders onder vyf jaar tot een uur per dag.
  3. Moet nie babas blootstel aan skerms nie aangesien die wit lig ‘n negatiewe uitwerking op hulle brein se ontwikkeling het.
  4. Skoolkinders kan twee ure per dag voor ‘n skerm deurbring.
  5. Kinders moet meer tyd buite die huis en kamer spandeer as binne.
  6. Stel ‘n tegnologieplan op om die gebruik van tegnologie te bestuur.
  7. Hou tegnologie uit jou kinders se slaapkamers uit. Kinders moet tussen agt en nege ure per aand slaap.

“Jy as ouer moet die tyd wat jou kind voor die skerm deurbring goed bestuur. Jy gaan nie gewild wees nie, maar as jy ongewild by jou kind is, is jy ‘n goeie ouer.”

Lees meer oor die onderwerp in volgende week se Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button