Hokaai voor jy vir die jongspan ‘n haas koop

Is jy gereed om 'n haaseienaar te wees? Geregistreerde haasteler Jade Greyvenstein deel vyf aspekte om ingedagte te hou.

POLOKWANE – Geregistreerde haasteler Jade Greyvenstein sê daar is vyf aspekte wat troeteldiereienaars ingedagte moet hou voor hulle vir hulle kinders ‘n haas as geskenk koop.

Hierdie aspekte is lewensverwagtig, voeding, behuising, gesondheid en voortplanting.

Lewensverwagting

“Voordat jy vir jou ‘n haas kry, onthou dat ‘n haas tussen agt en 12 jaar lewe,” verduidelik sy.

Jade noem troeteldiereienaars vergeet dat diere ‘n langtermyn verbintenis is.

Voeding

Hase kan bykans enige groente eet, maar kool en blaarslaai laat hulle opblaas. “Hierdie kossoorte kan lei tot hulle dood en moet vermy word. Hulle moet haas-pellets gevoer word sodat hulle die nodige nutriënte inkry.”

Jade lê klem daarop dat kos ‘n konstante uitgawe is om ingedagte te hou. “Maak seker om vars gras in die haas se hok te sit, sodat hulle daarvan kan vreet.”

Behuising

Die hok moet van draad gemaak word om ventilasie te verseker. “Die draad help sodat die ontlasting deur kan val en die hok makliker skoon gemaak kan word en infeksies vermy kan word.”

‘n Mens moet ‘n stuk hout iewers op die hok se bodem sit, maar nie die hele bodem bedek nie. “Hierdie hout word deur die haas gebruik om hulle tande se groei te beheer, aangesien hase se tande en naels nooit ophou groei nie.”

Gesondheid

“Siektes wat jou haas kan opdoen sluit in ‘n verstopte melkklier, koksidiose wat deur ‘n parasiet veroorsaak word, asook diarree. Hase kan hitte-uitputting ervaar en diabetes opdoen, veral as hulle te veel gevoer word,” verduidelik sy.

Jade sê wanneer hase stres ervaar ontwikkel hulle floppy rabbit syndrome, ‘n akute neurologiese kondisie wat gekenmerk word deur die onvermoë om te spring.

Voorplanting

Volgens Jade is dit belangrik om te weet dat hase vinnig aanteel. “‘n Haas word tussen ses en agt maande geslagsryp, afhangende van hulle grootte.”

Jade sê sy bepaal wanneer die wyfie geslagsryp is, deur oor haar rug tot by haar stert te vryf. “Wanneer die haas haar sterk oplig, is sy geslagsryp. ‘n Mannetjie kan aanhou teel tot hy dood is, maar ‘n wyfie is net tot op vier jaar gereed om te paar.”

Lees meer van Jade en haar liefde vir hase in volgende week se Polokwane Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version