Wanneer is dit nodig vir ‘n eerste besoek aan die tandarts?

Polokwane Observer het met die plaaslike mondhigiënis van Floss, Natasha van Reede van Oudtshoorn, gesels oor hoe om hierdie eerste, belangrike besoek...

POLOKWANE – Elke ma ken die uitdagings wat tandekry bied. Wanneer ‘n kind al hulle tande het, beteken dit nie ma kan nou agteroor sit nie. Ouers versorg die melktande tuis, maar wanneer is dit nodig vir ‘n eerste besoek aan die tandarts?

Polokwane Observer het met die plaaslike mondhigiënis van Floss, Natasha van Reede van Oudtshoorn, gesels oor hoe om hierdie eerste, belangrike besoek vir jou kind makliker te maak.

“Jou kind se eerste besoek aan ‘n tandheelkundige moet teen hulle eerste verjaardag gebeur, want dan het jou kind al vir ses maande tande in hulle mond. Ons gebruik hierdie afspraak om ouers in te lig rakende kinders se mondgesondheid. Ons loer sommer so staan-staan na die baba se tande om seker te maak alles verloop reg. Teen dié tyd het ouers gewoonlik al baie vrae.”

Die eerste besoek stel die kind bloot aan ‘n veilige omgewing sodat hulle verwysingsraamwerk gerig is op voorkoming van probleme. Wanneer hulle by die skool hoor hoe vreesaanjaend dit was om ‘n tand te trek, sal hulle kan sê: “By my tandarts was dit net lekker.” Dit veroorsaak onnodig angstigheid om ‘n kind vir die eerste keer tandarts toe te vat wanneer daar reeds ‘n probleem opgeduik het.

Lees meer: Dis nie nodig om bang vir die tandarts te wees nie

“Kies ‘n kindervriendelike praktyk om jou kind na te neem. Om te speel en gewoond te raak aan die praktyk omgewing help vir jare later wanneer daar wel ‘n probleem opduik.”

Natasha verduidelik, ‘n mondhigiënis is ‘n goeie keuse vir kinders se eerste besoek. “Ons geduld en spelerigheid met die besoek laat kinders op hulle gemak voel. ‘n Kind se eerste besoek is gewoonlik net speel en die stoel wat ry met al die liggies en knoppies ervaar. Indien ons ‘n probleem optel, sal ons die ouer verwys na ‘n kindervriendelike tandarts.”

Nog ‘n manier om jou kind voor te berei is om by die huis van rolspel gebruik te maak. “Sit op die bed met jou kind se kop op jou skoot, jy kan hulle tande tel of hulle tande borsel met hulle eie tandeborsel, sommer net so sonder tandepasta. Dan ruil julle om, jou kind is nou die tandarts. Handskoene en maskers is ‘n lekker ekstra om hier by te gebruik.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
 
Exit mobile version