Maak só met peste en onkruid

Hill van Schalkwyk van Laeveld Agrochem gesels oor onkruidbeheer en peste in tuine.

POLOKWANE – Met welkome somerreën kry tuine die geleentheid om nuwe blare te vorm en welig te groei. Reën bring egter ook ongewenste onkruid, peste en ander plae.

Tydens die Pietersburg Tuinbouklub se eerste maandelikse vergadering het Hill van Schalkwyk van Laeveld Agrochem die klublede toegespreek oor onkruidbeheer en peste in hulle tuine. Die tema van die vergadering was ‘Ons moet die onkruid uittrek’.

“Ek is nie hier om gif aan jou te verkoop nie. Inteendeel gaan ek probeer om jou te ontmoedig om onnodige chemiese produkte in jou tuin te gebruik,”sê hy.

Hill herinner die gehoor daaraan dat elke aksie ‘n reaksie het. “Alles wat jy in jou tuin gaan doen, gaan ‘n effek op iets of iemand hê. As jy nie seker is watter gifstof om te gebruik nie, moenie iets spuit nie. Jy gaan meer skade doen as wat jy die probleem gaan oplos.”

Volgens Hill is dit beter om die grondgehalte in jou tuin te toets en daarvolgens plante te plant. Om dieselfde plante te plant as jou vriendin in Mbombela gaan nie werk nie, aangesien die klimaat, watervoorraad en grond verskil. Plant plante wat werk in jou tuin.

“As dit nie werk nie, moet dit nie probeer reg spuit nie. Jou grond moet gesond en gebalanseerd wees, dan sal die plante goed groei. Daar is vier makro-elemente wat teenwoordig moet wees in jou grond. Daar moet 65% kalsium, 25% magnesium, 10% kalium en 0% natrium wees. Die oomblik wat jou grond nie hierdie balans het nie, gaan jou plante swak groei en meer vatbaar wees vir peste. Die verkeerdste ding om te koop is ureum, en maak seker jou kompos is gesertifiseerd.”

Hill vertel alles in ‘n tuin is ‘n gasheer vir organismes en peste, onkruid en swamme verskil van seisoen tot seisoen. Hou die balans in jou tuin natuurlik, patogene of peste is altyd in die lug.

“Mens kry verskillende onkruiddoders. Party is sistematies en ander is kontakonkruiddoders. Jy kry ook hormoon onkruid doders. Moet nooit gif in die wind spuit nie, veral nie as jy nie doodseker is jy weet wat jy spuit nie. Probeer chemiese produkte vermy.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version