Vlugte binnekort hervat by Polokwane Internasionale Lughawe

Die LUR vir Vervoer moedig mense van Limpopo en ander provinsies aan om die geleentheid aan te gryp en die vlugte te benut.

POLOKWANE – Die LUR vir Vervoer, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, het die terugkeer van kommersiële vlugte by die Polokwane Internasionale Lughawe verwelkom.

Die lughawe is in April deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (Sacaa) van kategorie sewe tot kategorie twee afgegradeer weens ernstige veiligheidsbevindinge. Die vlugte is daarna opgeskort om GAAL ruimte te bied om die probleme aan te spreek.

Alle bevindings is binne ‘n tydperk van vyf maande aangespreek, en die lughawe het goedkeuring gekry om vanaf middel Oktober sy bedrywighede te hervat.

Lerule-Ramakhanya sê die afwesigheid van kommersiële vlugte was vatbaar tydens vanjaar se Erfenisnaweek waar duisende motoriste vertraag was weens swaar verkeersopeenhopings op die N1 en ander besige paaie in die provinsie. Die hervatting van kommersiële vlugte sal ‘n verligting wees vir honderde sakelui en vakansiegangers wat dikwels verkies om tussen Polokwane en OR Tambo Internasionale Lughawe te vlieg.

“Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die mense van Limpopo en Suid-Afrika te bedank vir hulle geduld van April tot nou. Ons kon dit vroeër gedoen het, maar aangesien ons met veiligheidskwessies te doen gehad het, wou ek hê dat ons span deeglike werk moes doen sodat ons nie kliënte se lewens in gevaar stel nie. Ek is bly dat die inwoners van Limpopo weer vanaf middel Oktober na verskillende bestemmings van hulle keuse sal kan vlieg. Die terugkeer sal verseker dat alle kommersiële aktiwiteite by GAAL hervat word, en sal ook ‘n nodige hupstoot vir ons ekonomie gee,” het sy gesê.

Die LUR moedig mense van Limpopo en ander provinsies aan om die geleentheid aan te gryp en die vlugte te benut en sodoende padverkeer verminder. Airlink het bevestig dat dit van 18 Oktober af geskeduleerde vlugte na en van Polokwane sal hervat.

Rodger Foster, uitvoerende hoof en besturende direkteur, het in ‘n verklaring gesê die roete is ‘n belangrike pad vir sakelui. “Die Johannesburg-/Polokwaneroete is belangrik vir diegene wat vir besigheidsdoeleindes reis en speel ‘n deurslaggewende rol in die ondersteuning van die ekonomie van Limpopo. Ons sien uit daarna om ons gewone vlugte te hervat, wat tot drie keer per dag plaas sal vind.”

Hy sê vlugte van en na Polokwane word geskudeleer om reisigers gerieflike verbindings te bied met Airlink se binnelandse en streeksvlugte deur die Johannesburg sentrum op die OR Tambo Internasionale Lughawe.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version