EntertainmentLifestyle

Kom stap die Via Dolorosa

Kom stap saam op 'n kort pelgrimstog, bekend as die Weg van die Kruis of die Weg van Lyding (Via Dolorosa).

POLOKWANE – Die geleentheid is op N.G. Kerk Pietersburg-Oosgemeente se terrein te Betzstraat 97 en daar sal 12 stasies wees wat oomblikke in Jesus se lyding verteenwoordig. Dit vind plaas vanaf Maandag, 29 Maart tot Vrydag, 2 April en is daagliks oop tussen 09:00 en 18:00. Jy kan enige tyd kom vir die pelgrimsreis wat sowat ‘n uur lank duur. Daar sal inligting by elke stasie wees – ‘n Bybelteks, ‘n paar vrae wat jy kan bepeins en ‘n gebed.

Die pelgrimstog begin in die tuin van Getsemane waar jy ‘n ruk vertoef en jouself indink aan die stryd binne Jesus se gemoed. Jy gaan dink aan Petrus wat Jesus verloon het en aan die kladmerke op jou eie lewe. Jy gaan jou hande soos Pilatus was, ‘n kroon van doringdraad vleg wat jy huis toe kan neem, jou skouers onder die gewig van die dwarshout van die kruis, Patibulum in Latyn, sit en jou probeer indink hoe dit sou voel om die kruis te dra nadat jy regdeur die nag gemartel is, sonder kos en water moes gaan, en meer as een kilometer met die dwarshout op jou skouers moes loop.

Jy gaan spykers in die kruis, ‘n stuk ruwe hout, inslaan, want as jy eerlik met jouself is, en jy was daardie Vrydagoggend op Golgota, het jy moontlik self die hamer gevat en spykers help inslaan. Jy gaan die graf van Jesus besoek, die wit doeke oprol en by die laaste stasie aan die opstanding dink en die implikasies hiervan op jou eie lewe. Jy gaan ook die tekens van die nagmaal, die brood en die wyn gebruik. Buite op die stoep sal daar ‘n tafel met tee en koffie wees wat jy kan geniet tot die res van jou familie of vriende die Weg van Lyding (Via Dolorosa) voltooi het.

Indien jy jou weg oopsien, sal daar buite by die tee en koffie ‘n kartonboks wees waar jy nie-bederfbare kosprodukte soos bully beef, gemengde groente, blikkieskos, seep en tandepasta kan plaas wat aan behoeftiges geskenk sal word.

Op Donderdag om 18:00 het hulle ‘n nagmaalsdiens en jy is welkom om dit by te woon. Kom beleef dit as lede van ‘n selgroep, omgeegroep, Bybelstudiegroep, gesin, saam met jou lewensmaat of as individu. Almal is welkom en toegang is gratis. Nooi gerus jou vriende saam. Dit is toeganklik vir almal.

Vir meer inligting skakel die kerkkantoor by (015) 295 8849.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button