Shanize du Toit haar skool se trots

Marné Ebersohn Akademie is met reg trots op graad 6-leerder Shanize du Toit wat onlangs Suid-Afrikaanse kleure in ringbal verwerf het en die feit dat sy nog net twee jaar aan dié sportsoort deelneem en reeds so ‘n hoë sport bereik het, maak haar prestasie nog groter. Sy is lid van die Parke Ringbalklub en …

Marné Ebersohn Akademie is met reg trots op graad 6-leerder Shanize du Toit wat onlangs Suid-Afrikaanse kleure in ringbal verwerf het en die feit dat sy nog net twee jaar aan dié sportsoort deelneem en reeds so ‘n hoë sport bereik het, maak haar prestasie nog groter.
Sy is lid van die Parke Ringbalklub en is verlede jaar gekies vir die o.11 Limpopo A1-span as lyn-verdediger. Dié span was die naaswenners en het silwer medaljes ontvang by die Nasionale Ringbalkampioenskappe wat in Tshwane gehou is.
Vanjaar is sy weer gekies vir die o.13 Limpopo A1-span vir die vlerkposisie. Tydens die Nasionale Ringbalkampioenskappe wat weer in Tshwane van 23 tot 29 Junie gehou is, het haar span gewen en het hulle goue-medaljes ontvang.
Shanize was vanjaar ook lid van Suid-Afrika se 0.13 uitnodigingspan wat aan die vertoningswedstryde van die SA Ringbalkampioenskappe wat op 9 en 10 Augustus in Durban gehou is, deelgeneem het.
“Ek het tot twee jaar gelede aan geen georganiseerde sport deelgeneem nie en het toe besluit om ‘n sportsoort te kies waarvan ek hou. Ek wou eers netbal kies maar het gevoel dit is te stadig vir my en my keuse het uiteindelik op ringbal geval. Ringbal word egter nie by my skool aangebied nie en ek het by die plaaslike klub aangesluit.
Volgens Shanize is balans en strategie
benewens ‘n hoë graad van fiksheid noodsaaklik om ‘n sukses van die spel te maak. Oefening is baie belangrik en die regte geestelike ingesteldheid speel ook ‘n groot rol. “Ringbal is ‘n spansport en hoewel elke speler se inset op sigself ‘n verskil maak, is al die spelers van mekaar afhanklik om te verseker dat die bal beweeg en uiteindelik deur die ring val,” meen sy en voeg by dat dit vir haar ‘n groot oomblik is elke keer as haar span wen.
Shanize is haar ouers se enigste kind en word sterk deur hulle ondersteun. “Ringbal is ‘n wintersport en die seisoen loop nou ten einde. Ek gaan draf elke aand saam met my pa om fiks te bly vir volgende jaar. Ek neem nie juis aan sosiale geleenthede deel nie want ek moet nog tyd aan my skoolwerk ook bestee.” Sy voeg by dat sy gedurende die seisoen tweekeer per week oefen.
Sy sal deelname aan ringbal by enigeen, oud of jonk aanbeveel. “Sport bou verhoudinge en die spangees is aansteeklik. Mens maak nuwe maats en ek leer baie van ander, veral van die meer senior spelers wat my aanspoor.”

Storie/foto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button