Kolskote vir Marzé Becker in luggeweerskiet

Die uitdrukking ‘n boer met sy roer is deur Marzé Becker, ‘n graad 10-leerder van Hoërskool Pieters­burg (PHS), herdefinieer toe sy dit tydens die onlangse Ratel Luggeweerskietkompetisie in die stad duidelik gemaak het dat sy vir geen skut hoef terug te staan nie. Dié kompetisie wat jaarliks deur PHS aangebied word, lok skuts van regoor …

Die uitdrukking ‘n boer met sy roer is deur Marzé Becker, ‘n graad 10-leerder van Hoërskool Pieters­burg (PHS), herdefinieer toe sy dit tydens die onlangse Ratel Luggeweerskietkompetisie in die stad duidelik gemaak het dat sy vir geen skut hoef terug te staan nie.
Dié kompetisie wat jaarliks deur PHS aangebied word, lok skuts van regoor die provinsie waartydens hul vernuf met ‘n luggeweer in sit-, lê- en staanposisies deeglik getoets word.
Marzé het tydens die kompetisie in die o.21-afdeling deelgeneem en met die Ratel-trofee as skut van die dag weggestap. Dit nadat sy eerste plekke in die presisie-, 3P- en 10 m Olimpiese staanafdeling verwerf het. In die 3P-afdeling word ‘n skut se vernuf in die staan-, lê- en sitposisie getoets. Verder skiet sy 200 uit 200 in die lêposisie en word as algehele wenner aangewys met ‘n telling van 938 punte uit 1 000.
“Ek het met ‘n geweer in my hand grootgeword. In graad R het my pa al vir my my eerste luggeweer gekoop en ek het op sewejarige ouderdom my
eerste bok geskiet. Ek jag gereeld saam met my pa en het al verskeie boksoorte op my kerfstok,” sê Marzé.
In graad 7 het sy geweet sy wil haar hoërskoolloopbaan by PHS voltooi juis omdat hulle luggeweerskiet as sport aanbied. As groentjie in graad 8 behaal sy Limpopokleure en neem aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel. In graad 9 bou sy voort op haar pre­stasie en verteenwoordig weer eens die skool op provinsiale sowel as nasionale vlak.
“Die Limpopokampioenskappe is hierdie naweek in Tzaneen en ek glo ek sal weer vir die provinsiale span gekies word. My droom is om vanjaar beter te vaar tydens die nasionale kampioenskappe sodat ek gekies kan word om volgende jaar na Engeland te toer,” sê Marzé.
Sy sê sy oefen drie keer per week en een Saterdag per maand. “Skiet gaan nie net oor die sneller trek nie – ‘n mens moet leer om jou asemhaling te reguleer en bewerasies onder beheer te hou. Wanneer ek aan kompetisies deelneem is dit al waaraan ek dink. Ek motiveer myself en probeer positief bly om die stresvlakke te minimaliseer al skiet ek ‘n swak skoot,” meen Marzé.
Volgens haar is ‘n goeie skut iemand wat kalm bly. “‘n Mens raak soms moedeloos, maar jy moet vasberade bly en goeie deursettingsvermoë handhaaf. Die belangrikste les wat ek nog in skiet geleer het, is om altyd nederig te bly,” sê Marzé.
Sy is ‘n groot liefhebber van hokkie en netbal, maar moes dié sportsoorte vir skiet prysgee.
“Skiet neem baie van mens se tyd in beslag. Jy kan ure op die skietbaan deurbring tydens een oefensessie. Dan moet jy nog tyd inruim vir akademie en dit het my met geen ander keuse gelaat as om deelname aan ander sportsoorte te staak sodat ek op skiet kan konsentreer.”
Alhoewel sy nog nie planne het oor wat sy graag na skool wil studeer nie, is sy seker daarvan dat skiet altyd deel van haar lewe sal wees. Haar eerste mikpunt is om volgende jaar na Engeland te toer voordat sy skouer aan die wiel gaan sit om hopenlik vir die 2024 Olimpiese span gekies te word.

Storie/foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version