PHS se Zander de Ridder blink uit tydens Akademieweek

Hy beskou sy prestasies op die rugbyveld as ‘n Godgegewe talent wat hy met oorgawe en passie uitleef en daarom is Zander de Ridder van Hoërskool Pietersburg (PHS) tydens die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se o.18-Akademieweek in Bloemfontein met verskeie toekennings beloon. Dié graad 12-leerder, wat as Limpopo se onderkaptein tydens die toernooi uitgedraf het, is …

Hy beskou sy prestasies op die rugbyveld as ‘n Godgegewe talent wat hy met oorgawe en passie uitleef en daarom is Zander de Ridder van Hoërskool Pietersburg (PHS) tydens die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se o.18-Akademieweek in Bloemfontein met verskeie toekennings beloon.
Dié graad 12-leerder, wat as Limpopo se onderkaptein tydens die toernooi uitgedraf het, is tydens die eerste twee wedstryde as speler van die wedstryd aangewys.
Benewens dit het sy algemene prestasie op die veld gesorg dat hy aan die einde van die toernooi aangewys is as die speler wat die meeste punte (59) aangeteken het sowel as die speler wat die meeste strafskoppe (6) deur die pale gestuur het. Op die lys van spelers wat die meeste doelskoppe aangeteken het, het Zander die derde plek behaal.
Sy prestasies eindig nie daar nie en word Zander ook tydens die Akademieweek gekies om saam met ‘n internasionale span in Desember na Frankryk te toer waarna hy baie uitsien.
Sy rugbyprestasies kom reeds sedert laerskool toe hy as o.12- en o.13-speler van Laerskool Pietersburg-Noord Primary, Limpopo-kleure verwerf het.
Hy maak sy stem ook dik op die veld toe hy by Pieties aansluit deur as o.16-, o.17- en o.18-speler provinsiale kleure te verwerf.
Verlede jaar is hy vir die Reitzweek in die Vrystaat gekies waar hy as beste heelagter van die toernooi aangewys is en word tydens die skool se eer­stespantoer gekies om na Nieu Seeland te toer.
Tydens vanjaar se eerste­spantoer is Zander weer deur keurders raakgesien en gekies om Suid-Afrika tydens ‘n toer na Ierland te verteenwoordig.
“Ek speel rugby vanaf ek ses jaar oud is. Dit was nog altyd ‘n groot liefde en my passie vir die sport het gedurende die jare net meer ontwikkel,” sê Zander. Hy hou die meeste van rugby omdat dit ‘n spansport is waar hegte vriendskapsbande op en van die veld af gesmee word.
Volgens hom leer rugby hom selfdissipline deur gereeld by oefeninge uit te kom en om self in sy vrye tyd te oefen. Hy sê eienskappe van ‘n goeie rugbyspeler is iemand wat altyd nederig bly al behaal jy prestasies.
“Niemand is groter as die sport nie en vertroue in jou spanmaats en afrigters is uiters belangrik. Respek vir jou spanmaats en opponente is ook ‘n faktor wat enige speler moet aanleer,” sê Zander.
Zander is ook ‘n gedugte atleet en verteenwoordig die skool in verspring en driesprong en het verlede jaar weer besluit om krieket te begin speel en het vir die skool se tweedespan uitgedraf. Rugby gaan definitief ‘n deel van sy lewe na skool wees.
“Ek hoop om ‘n kontrak met ‘n nasionale klub los te slaan, maar sou dit nie realiseer nie wil ek graag ‘n afrigtingskursus voltooi en op die manier steeds my passie vir die sport uitleef,” sê Zander.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Zander de Ridder skop pale toe tydens die o.18-Akademieweek.
Foto: Verskaf

Related Articles

Back to top button