Kansa waarsku teen rookgewoonte

In ‘n verklaring wat onlangs deur die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) uitgereik is, word ‘n beroep op die publiek gedoen om dit te oorweeg om die gebruik van tabakprodukte in enige vorm te staak. Kansa sê in die verklaring dat die rook van tabakprodukte die hoofoorsaak vir ongesonde longe, longkanker en meer as 20 verskillende …

In ‘n verklaring wat onlangs deur die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) uitgereik is, word ‘n beroep op die publiek gedoen om dit te oorweeg om die gebruik van tabakprodukte in enige vorm te staak.
Kansa sê in die verklaring dat die rook van tabakprodukte die hoofoorsaak vir ongesonde longe, longkanker en meer as 20 verskillende soorte kankers is. Kansa meen dat dit sal help om die risiko van kanker te verlaag en deel sal wees van die 365 Dae Gesondheidveldtog in die aanloop tot Wêreld Geen Tabakdag op 31 Mei.
“Die SA Jeugrisiko Gedragsopname van 2011 berig dat 28% van leerders van gr 8 tot 11 erken dat hulle gerook het of nog steeds rook.
Die jeug word om die bos gelei deur hulle te laat glo dat die rook van ‘n hookahpyp nie skadelik is nie en dat e-sigarette ‘n veilige alternatief is vir die rook van tabakprodukte. Navor­sing bewys egter dat die gebruik van ‘n hookahpyp dieselfde gesondheidrisiko’s inhou as die rook van sigarette en die veiligheid van e-sigarette is nog nie wetenskaplik bewys nie.
Toetse wat gedoen is op e-sigarette dui aan dat die hoeveelheid nikotien daarin en ander chemikalieë wat veroorsaak word deur verskillende soorte e-sigarette aansienlik van mekaar verskil.
Hierdie inligting word nie bekendgemaak aan mense wat dit koop en gebruik nie. Blootstelling aan nikotien affekteer ook die breinontwikkeling van tieners en kinders op ‘n negatiewe wyse,” sê Elize Joubert, hoof uitvoerende beampte van Kansa, vir wie dit ‘n groot bron van kommer is.
“Rapporteer rook in nie-rook omgewings deur ‘n klag te stuur aan die eienaar van die perseel of rapporteer dit aan die Omgewings­gesondheid se hoofkantoor in jou plaaslike munisipaliteit. As jy probleme ondervind om ‘n klagte aanhangig te maak, rapporteer dit aan Kansa se Informasie en Dienslewering Afdeling by advocacy@cansa.org.za of skakel 0800 226622 tolvry,” voeg Joubert by.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version