Drie Tommies op pad na Amerika vir sewesrugby

Volgens hulle is daar min soortgelyke geleenthede en daarom borrel Henry Marx, Zencoe Woller en JP Venter oor van opgewondenheid nadat hulle onlangs verkies is om onder die vaandel van die Limpopo Vikings aan die Annual World Youth 7s Rugby Festival in Los Angeles, VSA deel te neem. Dié toernooi vind van 24 Junie tot …

Volgens hulle is daar min soortgelyke geleenthede en daarom borrel Henry Marx, Zencoe Woller en JP Venter oor van opgewondenheid nadat hulle onlangs verkies is om onder die vaandel van die Limpopo Vikings aan die Annual World Youth 7s Rugby Festival in Los Angeles, VSA deel te neem.
Dié toernooi vind van 24 Junie tot 3 Julie plaas en dié drie graad 11-leerders van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is die enigste van die stad wat Sondag hul eerste oefenkamp by Stanford Lake College gaan bywoon.
Hulle is dit eens dat hulle skaars hul opgewondenheid kan beteuel oor die geleentheid om hul skool en land op die rugbyveld te verteenwoordig. “Ons sien baie uit daarna juis omdat so ‘n geleentheid nie elke speler te beurt val nie. Dit gaan uitdagend wees met sterk spanne, soos dié van Nieu Seeland, wat nie maklike wedstryde gaan wees nie,” stem hulle saam.
Die seuns is ou hande op die rugbyveld en ywerige 15-tal en sewes-rugbyspelers. Henry het as o.14- en o.15-speler as kaptein uitgedraf en as o.16-speler onderkaptein waar hy ook aan die Bokkieweek vir 15-tal en sewesrugby deelgeneem het.
Zencoe het in graad 8 eers rugby begin speel en in graad 9 aan die Rhinos Sevens Series in Gauteng deelgeneem. Verlede jaar was hy kaptein van die o.16-rugbyspan.
JP is nie net ‘n kranige rugbyspeler nie, maar blink ook op die atletiekbaan uit. Hy het voorheen aan die 15-tal Bokkieweek deelgeneem en is selfs vir die Natal sewesspan gekies. Hy het saam met Henry verlede jaar reeds vir Tommies se eerste sewesspan uitgedraf.
Tydens vanjaar se atletiekseisoen het JP 17 medaljes waarvan sewe goud, drie silwer en sewe brons in onderskeidelik 100 m, 200 m en diskus verwerf. Hy speel ook vir Tommies se eerste krieketspan.
Al drie seuns verkies sewes bo 15-tal. “Sewes gee jou meer spasie op die veld om te gebruik. Jy kry ook meer kans om te dink en ‘n besluit te neem – jy kan die spel makliker lees. Die spel is baie vinniger en jy kry net een kans om jou opponent te stuit anders is hy deur tot by die doellyn,” meen hulle.
Verder geniet hulle sewesrugby baie meer omdat fiksheid ‘n reuse rol in jou sukses speel. “Daar is net sewe spelers op dieselfde grootte veld as vir 15-tal. Jy moet konstant gefokus bly en op die man af wees.”
Henry draf gewoonlik as agtsteman, Zencoe as losskakel en JP as skrumskakel uit. Hulle doelwit is om vanjaar vir Tommies se eerste sewes­span gekies te word en dat hulle hopelik in Amerika raakgesien sal word om hul drome as internasionale sewes-rugbyspelers te bewaarheid.
Die geleentheid kom ook teen ‘n prys van ongeveer R47 500 elk wat sakgeld uitsluit. Die drie het reeds begin om self fondse te genereer deur vetkoeke te verkoop of om self besighede te nader. Enige persoon of besigheid wat ‘n donasie wil maak, kan die skool skakel.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version