Gemeente neem afskeid van Dominee Frikkie

Gemeentelede en vriende het Saterdagaand tydens ‘n geselligheid by die NG Kerk Pietersburg-Noord afskeid geneem van Frikkie en Rachie Delport, pastoriepaar van die gemeente vir die afgelope 36 jaar. Rachie se broer, Willie Spies het die gehoor vermaak met ‘n voordrag, genaamd “Die Kronieke van ds Frikkie Delport”, wat dié gewilde paar se lewensloop in …

Gemeentelede en vriende het Saterdagaand tydens ‘n geselligheid by die NG Kerk Pietersburg-Noord afskeid geneem van Frikkie en Rachie Delport, pastoriepaar van die gemeente vir die afgelope 36 jaar.
Rachie se broer, Willie Spies het die gehoor vermaak met ‘n voordrag, genaamd “Die Kronieke van ds Frikkie Delport”, wat dié gewilde paar se lewensloop in die styl van ‘n hoofstuk uit die Bybel vervat het.
Dopper en Rita Erasmus en Janus van der Westhuizen het die gaste met sangitems vermaak en kollegas Tjaart Meyer, Hannes Bezuidenhout en Paul Grobler het kort toesprake gelewer.
Gemeentelid Schalk van der Merwe het namens die Hisop Klein­groep, waarby Frikkie intens betrokke was, ‘n afskeidswoord gerig.
Medeleraar van die gemeente, Jaco Putter, het namens die leraars van die gemeente gepraat en gesê dat Frikkie se humor, wysheid en kennis van kerksake en die gemeenskap ‘n ingrypende impak op sy lewe gemaak het. “Hier was ‘n profeet in ons midde,” het Putter gesê. Putter het Frikkie se filosofie van “Ons maak eerder ‘n fout om genade te wys as wat ons reg is met oordeel,” uitgelig en bygevoeg dat Rachie altyd aan Frikkie se sy was en vertel van die gewaardeerde werk wat sy daagliks in die kerkkantoor verrig het terwyl sy leiding geneem het in gemeentelike aktiwiteite.
Die Delports vestig hulle binnekort in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.

STorie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Die oudste gemeentelede van NG Kerk Pietersburg-Noord, Joey (90) en Johan (94) Broekman verkeer gesellig by die afskeidsgeselligheid.
Medeleraar van die NG Kerk Pietersburg-Noord, Jaco Putter, seremoniemeester, Wessel Cronjé, Frikkie Delport en kollegas Marian Jordaan, Hannes Bezuidenhout en Paul Grobler.

Related Articles

Back to top button