Maak ‘n bydrae tot die Rotariërs se betrokkenheid by senior burgers

Tagtig jaar gelede het die Rotariërs van Pietersburg ‘n behoefte geïdentifiseer om senior burgers wat nie hul eie huisvesting kon bekostig nie, van ‘n heenkome te voorsien en dit is hoe Our Home/Ons Tuiste in Suidstraat ontstaan het. Vandag is dit ‘n monument vir visie en ontferming met 30 enkelkamers, 23 enkelwoonstelle 22 kothuise en …

Tagtig jaar gelede het die Rotariërs van Pietersburg ‘n behoefte geïdentifiseer om senior burgers wat nie hul eie huisvesting kon bekostig nie, van ‘n heenkome te voorsien en dit is hoe Our Home/Ons Tuiste in Suidstraat ontstaan het.
Vandag is dit ‘n monument vir visie en ontferming met 30 enkelkamers, 23 enkelwoonstelle 22 kothuise en ‘n bejaardesorgeenheid wat voorsiening maak vir 43 persone en wat uitsluitlik gefinansier word deur bydraes van sorgsame inwoners en besighede van die stad en omgewing.
Die werk hou egter steeds aan en daar is tans ‘n waglys vir meer as 40 persone. Die salarisrekening alleen beloop bykans
R240 000 per maand en die Rotariërklubs dek die voorhoede in die bestuur, ontwikkeling en versorging van dié fasiliteit en sy inwoners.
Met die ondersteuning van die gemeenskap van groter Polokwane en instansies van so ver as die VSA, het die Rotariërs en Anns (Rotariërdames) oor die afgelope drie jaar drie maaltye per dag aan meer as 600 kinders, bejaardes en gestremdes verskaf en 60 ton kos en groente onder bejaardes versprei. Die Rotariërs het ook ‘n heenkome vir hulpbehoewende persone op die Leeuw­kuil Landbouhoewes aangekoop en ondersteun die instansie op ‘n deurlopende basis. Rolstoele en looprame is ook aan behoeftiges voorsien.
Die Rotariërs het ook drie buitelandse uitruilstudente ontvang, drie weggestuur en presterende jong sportlui van skole in die omgewing bygestaan met fondse vir bywo­ning van nasionale byeenkomste, in samewerking met die Limpopo Classic Car Club. Die Rotariërs staan die bestuur van Our Home/Ons Tuiste jaarliks by met die reëlings en aanbieding van hul kermis, wat elke jaar groter en gewilder word.
Die Rotariërklubs is deurentyd besig met fondsinsamelingsprojekte soos die jaarlikse Oktoberfest, fietswedrenne en voorsiening van eet- en drinkgoed by byeenkomste soos rugbywedstryde, skoue en danse.
Die jaarlikse gholfdag wat op 9 Mei by die Polokwane Gholfklub aangebied word, is die Rotariërs se primêre fondsinsamelingsprojek, maar die spelers is vir slegs ‘n klein gedeelte van die opbrengs verantwoordelik. Die sukses van die projek hang van skenkers af en bied ‘n tasbare geleentheid vir inwoners en sakelui om iets terug te ploeg in die gemeenskap.
As u ‘n gewaardeerde bydrae wil maak, oorweeg een van die volgende opsies:
Maak ‘n kontantskenking aan die Rotariërs, geen bedrag is te klein nie
Help om ‘n salaris te betaal deur ‘n aftrek­order te voltooi
Vra u leweransiers om ‘n vierbal of ‘n putjie by die golfdag te borg en te adverteer
Voorsien twee pryse vir wenners by die gholfdag
Skenk boumateriaal vir omskepping van die woonstel wat deur Luther en Gill Eisenburg geskenk is, in drie eenhede.
Die lys is eindeloos vir diegene wat vir ander omgee!

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version