Hiadee von Well vereer vir enorme bydrae agter skerms

Sy verkies dit om onder die radar te beweeg en vermy die kollig sover moontlik, maar die nederi­ge Hiadee von Well (49) se bydrae en die noemenswaardige verskil wat sy stil-stil agter die skerms maak, gaan nie ongesiens verby nie. Sy is tydens Polokwane Pedellars Cycling Club (PPCC) se jaarlikse prysuitdeling wat Vrydagaand in die …

Sy verkies dit om onder die radar te beweeg en vermy die kollig sover moontlik, maar die nederi­ge Hiadee von Well (49) se bydrae en die noemenswaardige verskil wat sy stil-stil agter die skerms maak, gaan nie ongesiens verby nie.
Sy is tydens Polokwane Pedellars Cycling Club (PPCC) se jaarlikse prysuitdeling wat Vrydagaand in die stad gehou is, as Fietsryer van die Jaar gekroon. Wat dié toekenning so uniek maak, is omdat Von Well glad nie kompeterend deelneem nie, maar dat haar harde werk in die klub veral om borgskappe te werf en haar administratiewe be­voegdheid tydens die organisering van wedrenne, op dié manier beloon word.
“Ek is oorweldig deur die komitee se besluit en het dit glad nie verwag nie. Dit is ‘n groot eer om dié toekenning te ontvang,” sê Von Well wat voorheen die toekenning as Queen of Pain ontvang het nadat sy tydens ‘n wedren geval en haar enkel gebreek het.
“Ek is baie lief vir die natuur en dit was een van die groot redes waarom ek ongeveer vyf jaar gelede by die klub aangesluit het. Ek is versot op bergfietsry, maar hou nie daarvan om kompeterend te wees nie – dit gaan oor die buitelewe en om iets saam met my familie te kan doen,” sê sy en reken sy sal aanhou bergfiets ry vir solank sy kan.
Haar liefde vir mense en om deel te wees van ‘n groep wat dieselfde passie deel is ook redes hoekom sy fiets ry. “Die samehorigheid onder lede en die hegte bande wat reeds gesmee is, maak van die klub een groot familie en elke oomblik saam word daar herinneringe geskep.”
Alhoewel Von Well in die verlede kompeterend gery het, het sy verlede jaar weens ander finansiële verpligtinge, daarteen besluit. Hier het sy haar ander passie vir fondsinsamelings, admin en organisering ten toon gestel toe sy die dryfveer van die klub agter die skerms geword het.
“Om geleenthede te organiseer en borgskappe te soek of geld in te samel is een van my sterkpunte. Ek is iemand wat enige projek met my hele hart aanpak en my liefde vir mense maak dit makliker om my doel te bereik,” sê sy.
Von Well is ook ‘n bekende gesig by die nie-regeringsorganisasie, Stop Trafficking of People (STOP) waar sy haar liefde vir mense en veral kinders ‘n stappie verder vat.
“Ek is ongeveer agt jaar by STOP betrokke en ek geniet elke oomblik daarvan – veral om met kinders te werk en met hulle die gevare van mensehandel te deel. Dit is veral jonger kinders wat my hart tydens aanbiedings steel. Die interaksie met hulle sorg vir onvergeetlike oomblikke,” sê sy.
As deel van die organisasie glo Von Well dat sy op so manier ‘n verskil in ‘n kind se lewe kan maak.
As omgewingskonsultant by ‘n plaaslike maatskappy, ruim Von Well tyd in haar besige skedule in om elders soos by die skool en kerk haar deel by te dra. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en in haar vrye tyd hou sy haar met ‘scrapbooking’ besig.
“Dit is belangrik om iets te doen wat die hele familie saam met jou kan doen. Die mense naaste aan jou moet jy koester en daarom glo ek aan geleenthede waarby die hele familie betrokke kan wees,” sê Von Well, wat erken sy het ‘n kleintjie dood aan mense wat altyd verskonings het om nie betrokke te raak by geleenthede nie.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version