Sportadministrateur Charlie Vorster lei SA span na Brittanje

Die stad se sportlui het nog ‘n uitblinker opgelewer toe Charlie Vorster as bestuurder van die Proteas o.18-meisiespan vir die toer na die Wereldpotspelkampioenskappe in Bridlington in Brittanje aangewys is. Die span wat uit vyf lede bestaan het van 18 tot 28 November kragte gemeet teen spanne van 16 lande wat Frankryk, Nederland, China, Brittanje, …

Die stad se sportlui het nog ‘n uitblinker opgelewer toe Charlie Vorster as bestuurder van die Proteas o.18-meisiespan vir die toer na die Wereldpotspelkampioenskappe in Bridlington in Brittanje aangewys is.
Die span wat uit vyf lede bestaan het van 18 tot 28 November kragte gemeet teen spanne van 16 lande wat Frankryk, Nederland, China, Brittanje, Noorweë en Gibraltar ingesluit het. Twee van die Proteaspelers kom van die Wes-Kaap en een elk van Noord-Wes, Vrystaat en Gauteng. Hoewel Vorster van hulle al voorheen tydens toernooie ontmoet het, was dit haar eerste geleentheid om hulle van nader te leer ken. “Ons het groot vriende geword en die spangees was iets wat ek nooit sal vergeet nie. Daar was nie baie tyd vir kuier nie, want ons het elke dag om 09:00 begin speel en een nag eers teen 01:30 klaargekry,” vertel sy.
“My span het ongelukkig geen medaljes verower nie, maar die ander Suid-Afrikaners het een goue, drie silwer en vier bronsmedaljes ingepalm. Die ondervinding wat die spelers opgedoen het terwyl hulle teen die beste ter wereld meegeding het, was van onskatbare waarde en vir my ‘n onvergeetlike ervaring. Die samesyn, nuwe vriende en hoogtepunte in die wedstryde sal my altyd bybly,” sê Vorster.
Vorster neem sedert 1993, toe sy haar man Naas ontmoet het, aan potspel deel. Naas is ook ‘n bedrewe potspelspeler en was in 2014 lid van die Proteaspan wat na Skotland getoer het.
Charlie het haar Limpopokleure as speler in 2006 verwerf en was al verskeie kere bestuurder van die Limpopo provinsiale ligaspanne en die Limpopospan op nasionale vlak.
Charlie sê dat sy potspel beslis as sportsoort vir alle ouderdomsgroepe sal aanbeveel. “Dit gaan nie net oor baie oefening nie, mens moet die regte tegniek vir die oomblik hê en baie strategies en geduldig wees. Potspelspelers is soos ‘n groot familie en almal ondersteun mekaar,” vertel Charlie.
Volgens Charlie moet ‘n sportadministrateur ‘n gevorderde kennis van die reëls van die spel en die gedragskode vir spelers hê en sorg dat dit nagekom word. “Jy moet as spanbestuurder dissipline en respek afdwing en leiding gee en motiveer. Jy is ook verantwoordelik om span­gees te bou en moed in te praat.”
Charlie en Naas is reeds ge­kies as lede van die Limpopospan vir 2019 saam met Gerhard Nel, ook ‘n inwoner van die stad. “Ons neem volgende jaar in Februarie aan die Suid-Afrikaanse senior kampioenskappe in Secunda deel en die spelers wat in die eerste vyf eindig, gaan in November aan die wereldkamioenskappe in Ciprus deelneem en ons hoop om die span te haal,” sê sy.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Charlie Vorster is nie net ‘n sportadministrateur nie, maak het ook Limpopokleure in potspel verwerf.
Exit mobile version