Vryburgers se wins ‘n meevaller vir liefdadigheid

Die Vryburgers van Pietersburg het verlede Donderdagaand ‘n jarelange tradisie voortgesit toe donasies tydens ‘n geselligheid by Pietersburgklub aan vyf instansies wat hulle vir die welsyn van inwoners van die stad beywer, gemaak is. Die geld is ingesamel tydens die Vryburgers se wynveiling wat gedurende Augustus gehou is en Bella Vista Ouetehuis, Koningskinders, Polo­kwane Nasorgsentrum, …

Die Vryburgers van Pietersburg het verlede Donderdagaand ‘n jarelange tradisie voortgesit toe donasies tydens ‘n geselligheid by Pietersburgklub aan vyf instansies wat hulle vir die welsyn van inwoners van die stad beywer, gemaak is.
Die geld is ingesamel tydens die Vryburgers se wynveiling wat gedurende Augustus gehou is en Bella Vista Ouetehuis, Koningskinders, Polo­kwane Nasorgsentrum, Pietersburg Maatskaplike Dienste en La Wiida Leersentrum het elk
R13 453,70 ontvang.
Stuurman Ruan Erasmus het verduidelik dat die geld nie eintlik van die Vryburgers kom nie, maar van die gemeenskap wat daarmee hul dank wil betoon teenoor die mense wat by die verskillende instansies betrokke is. “Die sakelui en inwoners wat die wynveiling ondersteun het, het donasies vir die wyn gemaak wat baie meer was as die pryse waarteen hulle die wyn by winkels kon aanskaf, maar het die geleentheid benut om ‘n goeie saak te ondersteun.”
“Julle is meestal vrywilligers wat jul tyd en energie opoffer en ‘n onbaatsugtige diens lewer. Ons weet dat die behoefte groot is en dat dit maar ‘n druppel in die emmer is, maar weet dat dit goed aangewend sal word. Voorspoed vir julle almal,” het hy aan die verteenwoordigers wat die donasies ontvang het, gesê.
Erasmus het ook sy dank uitgespreek teenoor die Vryburgers van Robertson vir hul aandeel in die sukses van die wynveiling en bygevoeg dat die Tafelrondes en sakelui van die stad se bydraes van onskatbare waarde was.

Storie en foto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

 

Exit mobile version