Skopboksers Leandri en Caitlen kragte om mee gereken te word

Die stigma dat sekere sportsoorte net vir mans bedoel is, is tydens die Limpopo Province Sport Karate and Kickboxing Academy (LPSKKA) se onlangse prysuitdeling as onsin bewys nadat twee klublede, Leandri Peyper (16) en Caitlen Nortman (12) met die toptoekennings weggestap het. Leandri is as Graderingstudent van die Jaar, Swartgordel van die Jaar en Suid-Afrikaanse …

Die stigma dat sekere sportsoorte net vir mans bedoel is, is tydens die Limpopo Province Sport Karate and Kickboxing Academy (LPSKKA) se onlangse prysuitdeling as onsin bewys nadat twee klublede, Leandri Peyper (16) en Caitlen Nortman (12) met die toptoekennings weggestap het.
Leandri is as Graderingstudent van die Jaar, Swartgordel van die Jaar en Suid-Afrikaanse vrouekampioen aangewys terwyl Caitlen nie net vir beste klasbywoning beloon is nie, maar ook as beste junior sportmeisie aangewys is en boonop met die prestigetoekenning vir haar toewyding en uithouvermoë vereer is.
Leandri is die afgelope 11 jaar ‘n lid van LPSKKA en sê haar liefde vir die sport is iets wat eie is aan haar familie. “My ma, Maryna, neefs en niggies neem aan dié sport deel en het tot gevolg dat ek die sport nog meer geniet. Ons is ‘n klomp familielede wat saam ‘n passie deel,” sê Leandri.
Sy is baie rustig van geaardheid en meen benewens haar familie se betrokkenheid wou sy ook gerat wees om haarself te kan verdedig in enige situasie. “Skopboks leer jou ook dissipline en respek vir jou medemens.”
Leandri spog met meer as 100 medaljes wat sy die afgelope 11 jaar tydens verskeie kompetisies op provinsiale en nasionale vlak verwerf het. Vanjaar het sy tydens die gesogte Arnold Classics goud, silwer en twee bronsmedaljes verwerf. Verder het sy tydens die nasionale Top 10 Kampioenskappe twee goud, ‘n silwer en ‘n bronsmedalje ingepalm en twee goud en ‘n silwermedalje tydens die onlangse kwalifiserende kampioenskappe vir die wêreldkampioenskappe in Kaapstad om haar nek gehang.
Leandri neem in kategorieë vir kata, swartgordel en ligte- en semikontak deel met swartgordel as gunsteling omdat sy teen ander deelne­mers moet veg.
Haar doel is om eendag aan die wêreldkampioenskappe te kan deelneem en wil graag as sensei kwalifiseer om opkomende karatekas touwys te kan maak.
Caitlen reken haar belangstelling in die sport spruit uit verskeie voorvalle waar sy op skool geboelie is.
“Ek het ongeveer vyf jaar gelede bloot om selfverdediging-doeleindes by LPSKAA aangesluit. Fiksheid is die beste deel van die sport juis omdat dit so ‘n groot komponent van jou sukses in die sport is,” sê Caitlen en voeg by dat gradering baie uitdagend is en karatekas hard moet werk om die volgende vlak te kan bereik.
Caitlen het aan dieselfde kampioenskappe as Leandri deelgeneem en ongeveer vyf medaljes waarvan minstens een goud is, verwerf. Sy is versot op kata sowel as ligte- en semikontak-afdelings van die sport en wil ook graag haar doelwit om Suid-Afrika tydens die wêreldkampioenskappe te verteenwoordig, bereik.
Die twee is dit eens dat ‘n goeie skopbokser nie ‘n bang haar op sy kop het nie. “Maak nie saak hoe groot jou opponent is nie, doen net jou bes en hou by die basiese beginsels van wat in die klas geleer word. Volg jou hart, werk hard en streef jou drome na en sukses sal vanself kom,” meen hulle.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button