Deel in die vreugde van gee vir Kersfees

Daar is nog net 20 dae oor om deel van Vision of Hope Foundation (VoHF) se Kersfees-skoendoosprojek te wees en nie net harte te verwarm nie, maar ook mee te help om broodnodige items aan minderbevoorregtes te gee. Hoewel die organisasie reeds 400 gevulde skoendose ontvang het, kort hulle nog sowat 250 teen 15 November …

Daar is nog net 20 dae oor om deel van Vision of Hope Foundation (VoHF) se Kersfees-skoendoosprojek te wees en nie net harte te verwarm nie, maar ook mee te help om broodnodige items aan minderbevoorregtes te gee.
Hoewel die organisasie reeds 400 gevulde skoendose ontvang het, kort hulle nog sowat 250 teen 15 November en moedig veral kerke, skole en besighede aan om saam te span en deel van die projek te word.
Die projek behels dat vrywilligers of groepe ‘n versierde skoendoos met items vul wat van ‘n lys gekies kan word en ‘n boodskap bysit.
Inwoners van Tuiskoms-, Aretha-, Bella Vista-, Komarin-, en Ivydale-skuiling sowel as Pietersburg Helpgroep sal onder meer die geskenkdose ontvang tydens ‘n Kerspartytjie.
Drienie van Wyk, VoHF-voorsitter sê die oomblik wat die ontvanger sy of haar geskenk oopmaak en mens die voorreg het om die vreugde en dankbaarheid op ‘n gesig te sien, besef jy dat van die ontvangers nog nooit die voorreg gehad het om van die alledaagse items te hê waarvan ons ‘n oorvloed het nie,” sê Van Wyk.
Pietersburg Laerskool (Suidskool) is een van die instansies wat besluit het om deel te neem en ‘n verskil te maak. “So ‘n geskenk is ‘n wonderlike gebaar aan minderbevoorregtes in ons gemeenskap. Dit kos nie veel nie en is ook nie baie moeite nie,” sê die skool se skakelbeampte, Charlotte van den Berg.
Lys van voorgestelde geskenke, afhangend van geslag
Sanitêre- en toiletware soos ‘n lekkerruiksepie, waslap, tandeborsel, tandepasta, sneesdoekies, kam, borsel, sjampoe, reukweerder, lyfroom en weggooibare skeermesse. ‘n Notaboek en pen, haarversierings, boekie met inspirasieboodskappe, blanko geskenkkaartjies en koeverte, drasak vir kruideniers­ware/items, iets lekker om te eet (nie bederfbaar), beursie of handige sakkie en inkleurboek en kleurkryt vir volwassenes sal ook handig te pas kom.
Skakel Van Wyk by 083 495 3959 vir enige navrae of om deel van die opbouende projek te wees.

Storie: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

 

Related Articles

Back to top button